Hou op om ander te blameer en aanvaar verantwoordelikheid (1)

2018-05-11
Genesis 3:12 NLV

Die verhaal van Adam en Eva se foute leer ons twee belangrike lesse oor God: 1) Hy sal nie jou verskonings aanvaar nie. 2) Hy sal jou nie toelaat om ander mense te blameer nie. Hy dring daarop aan dat jy verantwoordelikheid vir jouself moet neem. Totdat jy dit doen, kan Hy jou nie seën soos wat Hy graag wil doen nie. Dit beteken dat jy moet ophou om in die asgat van foute in die verlede te leef – jou eie, en ook ander mense s’n. Jy moet op dit waarheen jy oppad is en dit wat jy graag wil sien gebeur, fokus, eerder as om jou oë op die truspieëltjie te hou om terug te kyk op wat gedoen is en wie dit gedoen het. Dis tyd om jou mag terug te neem! Hoe? a) Hou op om ander te blameer. b) Definieer hoe sukses vir jou lyk en spesifiseer wat jy wil hê moet gebeur. c) Delegeer take sodat dit kan gebeur en beloon die mense wat jou help om ‘n beter toekoms te behaal. d) Stel bereikbare doelwitte. Verhoudings wat in die moeilikheid is, het desperaat goeie nuus nodig, ontwikkel dus bereikbare doelwitte wat almal iets sal gee om te vier. Dit hoef nie die uiteindelike doelwitte te wees wat die oorlog wen nie, maar die klein suksesse wat wys dat jy sommige gevegte wen. Hierdie spelplan gee mag terug aan die individu wat nodig het om vordering te sien. Dit lei jou aandag van blaam af en gee jou riglyne vir dit wat produktief is. Dit neem die mag van die verlede weg, waar geeneen van ons die vermoë het om gedane sake te verander nie – maak nie saak wie daarvoor te blameer is nie. Dis ‘n konstruktiewe, eerder as ‘n destruktiewe, poging.

Sielskos: Deut 22-24; Mark 7:24-37; Ps 44:1-8; Spr 12:7-9

Hou aan verbeter

2018-04-29
1 Korintiërs 9:27 NLV

Paulus skryf: ‘Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ‘n prys te wen wat gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ‘n ewige prys. Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ‘n bokser wat met elke hou tref. Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie’ (verse 24-27 NLV). Tensy jy beheer van jou lewe neem, sal jy altyd met die wete lewe dat jy nie aan jouself behoort nie. Jy behoort aan wie of wat ook al jou beheer. Om te verbeter, moet jy probeer om hierdie drie dinge altyd voor oë te hou: 1) Lees. Dawid het gesê, ‘Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag’ (Psalm 119:97 NLV). Dissiplineer jouself om elke dag iets te lees wat jou geestelik, emosioneel, verhoudingsgewys en beroepsgewys sal help. Plaas jou Bybel bo-aan die lysie van dit wat jy wil lees. 2) Belonings. Die skrywer Mike Delaney het opgemerk, ‘Enige besigheid of industrie wat die luiaards en die ywerige werkers ewe veel beloon, sal vind dat hulle kort voor lank met meer luiaards as ywerige werkers sit.’ 3) Resultate. Die volgende keer wat jy voor ‘n taak te staan kom en aan dit wat gemaklik is om te doen eerder as wat reg is dink, verander jou fokus. Tel die voordele daaraan verbonde om te doen wat reg is en begin met die taak. Moenie op die werk fokus nie, fokus op die resultate.

Sielskos: Gal 5:22; Luk 10:25-37; Ef 4:31-32; Spr 2:4

Geheime vir selfbeheersing (2)

2018-03-01
Romeine 14:4 NLV

Sit die verlede agter jou. ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV). Hierdie Skrifgedeelte ontbloot ‘n algemene wanopvatting wat jou daarvan weerhou om selfbeheersing te kry: Een keer ‘n mislukking, altyd ‘n mislukking! Jy mag dalk sê, ‘Ag, ek het probeer om my slegte gewoonte te breek. Ek gaan seker maar nooit beheer daaroor kry nie.’ Dit is ‘n wanopvatting. Paulus sê, ‘…Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op’ (2 Korintiërs 4:9 DB). Het jy al ooit ‘n baba wat leer loop dopgehou? Hulle val baie, maar hulle hou aan probeer en is uiteindelik suksesvol. Hoe ver dink jy sou hulle kom as hulle net opgegee het en gesê het, ‘Sommige mense is net nie bedoel om te kan loop nie’? Mislukking in die verlede beteken nie dat jy nooit sal kan verander nie. Om egter op mislukkings in die verlede te fokus, waarborg dat jy hulle sal herhaal. Dis soos om ‘n kar te bestuur terwyl jy in die truspieëltjie kyk. Jy gaan bots met wat ook al voor jou is. Jy moet jou verlede agter jou sit. Niemand het meer mislukkings as Thomas Edison ervaar nie. Die meeste van ons sou tou opgegooi het, maar nie hy nie. Hy het een keer gesê, ‘Moet dit nie ‘n mislukking noem nie, noem dit ‘n leerskool! Nou weet ek wat nie werk nie!’ Wanneer jy besef dat sonde nie werk nie, is dit ‘n beslissende oomblik en ‘n springplank na oorwinning. ‘n Wenner is eenvoudig iemand wat een keer meer opstaan as wat hulle val. Die woord vir jou vandag is dus: ‘…[Jy] sal ook die toets slaag – daarvoor sal ons Here in sy almag sorg.’

Sielskos: 1 Kon 16:1-18:15; Matt 19:1-14; Ps 61; Spr 6:16-19

Jaag jou droom na (1)

2017-09-03
Josua 1:9 NLV

Toe dit tyd word vir Josua om Moses se plek in te neem, het God vir hom gesê, ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen.’ Vandag sê God dieselfde vir jou. Hy wil hê dat jy die droom wat Hy in jou hart geplaas het, moet najaag! Alfred D. Souza het geskryf: ‘Vir ‘n lang tydperk het dit vir my gevoel dat die lewe op die punt is om te begin – die regte lewe. Daar was egter altyd een of ander struikelblok in die pad, iets wat eers afgehandel moes word, tyd wat daaraan bestee moes word en ‘n skuld wat eers betaal moes word. Dan kon die lewe begin. Uiteindelik het ek tot die besef gekom dat hierdie struikelblokke die regte lewe is.’ Wanneer jy struikelblokke teëkom, ontdek jy dinge omtrent jouself waarvan jy nooit geweet het nie. Jy ontdek die diepte van jou geloof in God – en in jouself. Struikelblokke help slegs om jou posisie te versterk, nie om jou droom te vernietig nie. Wanneer jy op jou lewe terugkyk, sal jy meer jammer wees oor die dinge wat jy nie gedoen het nie, as die dinge wat jy wel gedoen het. Wanneer jou droom dus onmoontlik lyk, vertrou op God en tree op asof dit onmoontlik is om te misluk. Hoekom? Omdat, ‘…Alles… by God moontlik [is]!’ (Markus 10:27 NLV). Dit beteken dat jy die vlag moet saamneem wanneer jy Everest wil uitklim. Moenie na mense luister wat sê, ‘Dit kan nie so gedoen word nie.’ Ignoreer dit wat mense sê nie gedoen kan word nie en fokus op dit wat God sê gedoen kan word.

Sielskos: Gen 11:1-9; Fil 2:1-11; Ps 133

Wees versigtig wie jy in jou vertroue neem

2017-08-04
Spreuke 11:13 NLV

As jy hulp met ‘n probleem in jou persoonlike lewe, jou loopbaan of jou familie benodig, hou die volgende in gedagte: 1) Slegte nuus word dikwels langer as goeie nuus onthou. Lank nadat jy die kwessie opgelos het en aanbeweeg het, kan die verkeerde mense nog aanhou om daarop te fokus en daaroor te praat. Dit is hoekom God se Woord sê, ‘…betroubare mense bewaar geheime.’ 2) Wees versigtig wie se raad jy volg. ‘Die planne van die regverdiges staan vas. Die raad van goddeloses is vol bedrog’ (Spreuke 12:5 NLV). Maak seker dat jy na die regte persoon uitreik. Daar is baie bronne van wysheid in hierdie wêreld, ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg’ (Jakobus 3:17 NLV). Neem slegs ‘n raadgewer wat volgens die beginsels van God se Woord wandel, in jou vertroue. 3) Maak seker dat die persoon wat jy vertrou, nie onbetroubare mense in sy/haar vertroue neem nie. Daar word gesê dat jy iemand aan die geselskap wat hulle opsoek, kan ken. Dis waar! Die Bybel sê, ‘Gelukkig is die mense wat nie optree volgens die raad van goddeloses [nie]…’ (Psalm 1:1 NLV). 4) As jy aanhoudend oor jou probleme praat, kan jy as ‘n slagoffer, eerders as ‘n oorwinnaar, gesien word. Toe Job alles verloor het, het amper almal hom vermy. Dit is eers nadat God Job se seëning verdubbel het, wat hulle teruggekeer het om deel aan sy lewe te hê en vir hom geskenke te bring. Dit is altyd wys om jou mond, jou gedagtes en jou fokus te beheer. Onthou, stilte kan nooit verkeerd aangehaal word nie.

Sielskos: 1 Kron 3:1-4:23; Mark 2:1-12; Ps 119:1-8; Spr 20:15-18