2019-02-26
Spreuke 4:23 NLV
Wanneer Satan besluit om jou te vernietig, begin hy deur verkeerde gedagtes in jou kop te plant. Jesus het dit geïllustreer toe Hy gesê het: ‘Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ‘n wellustige oog na ‘n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg’ (Matteus 5:27-28 NLV). Voor jy in realiteit aan sonde toegee, vermaak jy dit eers as ‘n fantasie in jou gedagtes. Bose gedagtes is nie regtig joune nie, tensy jy hulle toelaat om spreekwoordelik in te trek en die meubels te begin rondskuif. As jy hierdie gedagtes toelaat om ongehinderd rond te maal, kan ‘n gedagte homself aan ‘n voorval in jou verlede of ‘n neiging in die hede vaskleef en homself voed totdat dit soos ‘n gewas is wat binne-in jou groei. Paulus waarsku ons, ‘…neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:5 NLV). Salomo skryf ook, ‘Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.’ Moenie verkeerde gedagtes ‘n pinkie gee nie, want hulle sal die hele hand gryp. Raak van hulle ontslae voor hulle jou verbintenis met Christus verswak en jou spyt laat kry. Oor die algemeen, fokus ons op dit wat ander mense kan sien en inspekteer wanneer ons ons huise skoonmaak. Dink net hoeveel gemors is daar in ons gedagtes, omdat niemand anders ons gedagtes ondersoek nie. God ondersoek dit egter! Dawid het gesê: ‘Here, U deursoek my en ken my’ (Psalm 139:1 NLV). Jy moet die volgende bid: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser’ (Psalm 19:15 NLV).
Sielskos: Eks 10-12; Luk 12:13-21; Ps 61; Spr 6:16-19
2019-01-26
Matteus 28:19 NLV
Tensy jy daar toe verbind is om Christus in elke area van jou lewe te volg, beteken die doop net dat jy droog in die water ingaan en nat en onveranderd weer uitkom. Let noukeurig op wat Jesus gesê het: ‘Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle… Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet verseker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis’ (verse 19-20 NLV). Met die doop verklaar jy in die openbaar dat jy op die dood en opstanding van Christus, vir jou verlossing vertrou. Dit beteken egter meer as om net in water gedompel te word. Dit beteken dat jy: 1) In die beginsels van Christus verdiep moet wees. ‘…Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het…’ Let wel: ‘alles.’ Dis nie ‘n à la carte spyskaart waarvan jy kan kies wat vir jou lekker lyk en die res kan los nie. Onvolledige gehoorsaamheid – is ongehoorsaamheid. 2) In die doelwitte van Christus verdiep moet wees. ‘Gaan dan, maak al die nasies my dissipels…’ Die doop kan in ‘n oomblik plaasvind, maar dissipelskap verg dat jy Jesus vier-en-twintig uur ‘n dag, sewe dae ‘n week, twee-en-vyftig weke ‘n jaar moet volg. 3) In die teenwoordigheid van Christus verdiep moet wees. ‘…En weet verseker: Ek is altyd by julle…’ Dit beteken dat jy in alles wat jy doen ‘n aanvoeling vir sy teenwoordigheid moet ontwikkel. Sy inwonende teenwoordigheid moet jou bestuur, jou motiveer en jou daarop fokus om sy wil uit te voer.
Sielskos: Rom 15-16; Luk 6:17-26; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12
2018-10-19
Genesis 19:17 NLV
Een keer was daar vyf skepe, waarvan een Brits was, in die Wes-Indies in ‘n hawe geanker toe ‘n groot storm losgebars het. Die Britse kaptein het onmiddellik die anker opgetrek en uitgevaar om die storm te gaan ontmoet. Twee dae later, stukkend maar darem steeds in een stuk, het hy na die hawe toe teruggekeer en ontdek dat die skepe wat uit vrees vir die storm nie uitgevaar het nie, almal tot op die strand gedryf en vernietig is. Oor die algemeen, is die beste pad as leier vorentoe om die uitdagings kop eerste aan te durf en nie om te kyk nie. Die skrywer Jon Gordon wys ses belangrike dinge uit: 1) Wie jy is maak ‘n verskil. Mense volg die leier eerstens en sy visie tweedens. 2) Dit gaan alles oor verhoudings. Pastoor Andy Stanley het gesê, ‘Reëls sonder ‘n verhouding lei tot rebellie.’ Jy kan al die reëls in die wêreld implementeer, maar as jy nie ‘n verhouding met die mense wie jy lei ontwikkel nie, sal hulle rebelleer. 3) Dis gaan nie oor wat jy doen nie, maar wat jy ander kan inspireer, aanmoedig en bemagtig om te doen. Jy bring die beste in ander uit wanneer jy die beste in jouself met hulle deel. 4) Lei met optimisme, entoesiasme en positiewe energie. Vermy negatiwiteit en leer mense om op oplossings, nie klagtes nie, te fokus. 5) Erken dat jy nie al die antwoorde het nie en bou ‘n span mense wat of die antwoorde het, of die antwoorde sal vind. 6) Aanvaar dat sukses ‘n proses, nie ‘n bestemming nie, is. John Wooden, die legendariese basketbalafrigter, het besef dat oorwinning die gevolg van goeie leierskap, spanwerk, fokus, toewyding en die implementering van die basiese elemente, is.
Sielskos: Eks 33-35; Joh 4:27-38; Ps 32; Spr 27:1-3
2018-05-26
Galasiërs 6:2 DB
Wanneer ‘n vriend of familielid ‘n krisis ervaar, moet jou doel wees om hulle te help om dit te hanteer en daardeur te groei. Soms is dit makliker gesê as gedaan! Soos wat hulle seer harte by die nuwe omstandighede aanpas, sal hulle dalk skepties wees oor wie hulle kan vertrou. Om daar te wees vir hulle is egter waaroor die koninkryk van God gaan! ‘Help ander gelowiges wat swaarkry…’ (vers 2 NLV). Jou toewyding kan ‘n betekenisvolle rol in iemand se reis om weer emosioneel gesond te word, speel. Hier is drie praktiese voorstelle: 1) Moenie van hulle verwag om kontak te maak nie. Dis algemeen van mense wat ‘n krisis ervaar om te onttrek eerder as om vir hulp te vra. Dikwels is hulle te ontsteld om te weet wat hulle nodig het, so jy sal heel waarskynlik die eerste tree moet neem. Moet ook asseblief nie voel asof jy ‘n kundige moet wees nie. Twee eenvoudige stappe kan die persoon wat seer het gewaardeerd laat voel en laat voel asof jy hulle seerkry verstaan: a) Luister versigtig na hulle bekommernisse en persepsies. b) Behou oogkontak en stel waarlik belang. 2) Help om hulle angs te verminder. Bied ‘n kalmerende teenwoordigheid deur hulle uit te nooi om hulle gevoelens te deel. As hulle denkwyse verwring voorkom, sê iets soos, ‘Mag ek ‘n ander manier voorstel om na dinge te kyk?’ 3) Help hulle om te fokus op dit wat belangrik is. Hulle voel oorweldig, help hulle dus om op die sake te fokus wat hulle onmiddellike aandag moet geniet. In plaas van om oor die verlede te tob en oor die toekoms bekommerd te wees, moedig hulle aan om op die huidige oomblik te konsentreer en vir die hier en nou te leef (sien Matteus 6:34).
Sielskos: Rig 16:1-19:15; Mark 11:12-26; Ps 47; Spr 13:11-12
2018-05-24
Spreuke 22:29 NLV
Hier is ‘n gebed vir sukses by die werk: ‘Here, ek dank U vir die manier wat U my gemaak het, vir die baie gawes en talente wat U in my geplaas het en ek vertrou dat ek die beste persoon vir die werk is. Ek is dankbaar vir ieder en elke persoonlikheid waarmee ek werk, selfs diegene wat ek nie regtig van hou of verstaan nie. Ek vra dat my fokus gedurende my tyd in hierdie posisie, op die doelwitte wat U vir my gestel het, sal wees. Gee my die wysheid en insig om die werk te kan doen, selfs te midde van ‘n vyandige omgewing. Help my om te verstaan wat U my hier wil leer en gee my geduld soos U my vir die toekoms voorberei. Help my om my beste te lewer en altyd positief en hoopvol te bly. Stil die klagtes en teleurstellings van my hart deur U perfekte vrede en laat my toe om U met my werk te vertrou. Klee my in die kledingstukke van lof en die regverdigheid van Christus sodat ek U by die werk kan verheerlik. Laat my toe om my ware identiteit te ken, om in U guns te wandel en om U, meer as die mense waarmee ek werk, te probeer tevrede stel. Waar daar twis is, laat my ‘n vredemaker wees. Waar daar bedrog is, laat my die waarheid praat. Waar daar wanhoop is, laat my hoop bring. Waar daar vrees is, laat my geloof bring. Waar daar donkerte is, laat my lig bring. Waar daar hartseer is, laat my vreugde bring. Hierdie dinge vra ek in Jesus se Naam. Amen.’
Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 10:35-52; Ps 129; Spr 20:25; Pred 5:4-6