Oorkom stres (5)

2019-09-16
Markus 3:14 NLV

Moenie dit alles self probeer doen nie. Een van die redes hoekom ons gestres raak, is omdat ons dink dat alles van ons afhang. Nie Jesus nie. Hy het twaalf ander mense ingeroep, opgelei en bemagtig sodat hulle die las kon help dra. Hy het sy werk gedelegeer. Hy het ander mense betrek. Hoekom doen ons dit nie? Twee redes: 1) Perfeksionisme. Ons dink: ‘As ek die werk goed gedoen wil hê, moet ek dit self doen.’ Dis ‘n oulike idee, maar dit werk gewoonlik nie uit nie omdat daar net te veel dinge is wat gedoen moet word. Ons het eenvoudig nie die tyd of die talent om alles self te doen nie. Dis inderwaarheid ‘n egoïstiese houding wat sê: ‘Niemand, maar niemand kan dit soos ek doen nie!’ Dink jy Jesus kon ‘n beter werk as sy dissipels gedoen het? Natuurlik, maar selfs met daardie wete, het Hy hulle steeds die werk laat doen. Hoekom? Omdat ons ander mense moet toelaat om foute te maak om sodoende te leer, dieselfde manier wat die dissipels geleer het. Moenie ander mense se opvoeding steel nie. 2) Onsekerheid. ‘Wat as ek hierdie verantwoordelikheid vir iemand anders gee en hulle doen dit beter as ek?’ Hierdie moontlikheid is ‘n bedreiging vir baie van ons. Jy sal egter nie bedreig voel as jy weet wie jy is, wie jy probeer tevrede stel, wat jy wil bereik en die een ding waarop jy moet fokus, weet nie. Om effektief te wees moet jy ander mense betrek, want jy kan nie op meer as een ding op ‘n slag fokus en dit goed doen nie.

Sielskos: Hoogl 1-4; Matt 25:41-46; Ps 3; Spr 21:4-8

Oorkom stres (4)

2019-09-15
Lukas 4:43 NLV

Fokus op een ding op ‘n slag. Word jy in verskillende rigtings getrek? Mense het dit aanhoudend aan Jesus probeer doen en sy aandag van sy doel in die lewe probeer aflei. Die Bybel sê: ‘Vroeg die volgende môre het Jesus na ‘n verlate plek vertrek. Die skares het oral na Hom gesoek, en toe hulle Hom uiteindelik kry, het hulle Hom gesmeek om hulle nie te verlaat nie’ (vers 42 NLV). Jesus was op die punt om te vertrek en hulle het Hom probeer oorreed om te bly. Dis hoe Hy gereageer het: ‘…Ek moet die Goeie Nuus van die koningsheerskappy van God in ander plekke ook verkondig, want dit is waarvoor Ek gestuur is.’ Hy het geweier dat sy aandag deur minder belangrike sake afgelei word. Hy was ‘n meester daarin. Almal het probeer om Hom in die rede te val. Almal het ‘n Plan B vir sy lewe gehad. Hy het egter in wese gesê: ‘Nee, Ek moet vorentoe na my doelwit toe beweeg.’ Hy het aangehou om te doen wat God vir Hom gesê het om te doen. Hy was vasberade. Hy was volhardend. Hy was gefokus. Wanneer jy dus ‘n dosyn verskillende dinge het om te doen, kies die belangrikste een en hou daarmee vol totdat jy dit voltooi het. Kies dan die tweede belangrikste een en doen dieselfde, totdat jy die lys voltooi het. Wanneer ons ons inspanning versprei is ons oneffektief; wanneer ons ons inspanning konsentreer is ons suksesvoller. Verspreide lig produseer ‘n dowwe glans, terwyl lig wat gekonsentreerd is, vuur produseer. Jesus het nie toegelaat dat onderbrekings Hom daarvan weerhou om op sy doel te konsentreer nie. Hy het nie toegelaat dat ander mense Hom gestres, gespanne of geïrriteerd maak nie. Hy is jou voorbeeld!

Sielskos: Gen 24:1-51; 2 Kor 6:14-7:1

Bly gefokus (2)

2019-07-20
Nehemia 6:3 NLV

Terwyl hy besig was om die mure van Jerusalem te herbou, het Nehemia ontdek dat nie almal rondom hom wou hê dat hy sukses moes behaal nie. Om sy werk te stop, het sy vyande twee dinge gebruik – dreigemente en gerugte. Nietemin het hy Jerusalem se mure in minder as twee maande herbou. Hoe het hy dit gedoen? Hy het op dit wat saak maak gefokus gebly en geweier dat sy aandag daarvan afgetrek word. ‘…Ek het besef dat hulle beplan het om my kwaad aan te doen. Ek het toe vir hulle ‘n boodskap teruggestuur: ‘Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie.’ Hulle het die boodskap vier keer vir my gestuur en elke keer het ek vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur’ (Nehemia 6:2-4 NLV). In vandag se omgangstaal, het hulle vir hom e-posse gestuur. Hulle het boodskappe op sy Facebookblad geplaas. Hulle het boodskappe op sy selfoon gelaat. Oor en oor het hulle sy aandag met dialoog probeer aflei. Hy het egter geweier om te baklei. Sy antwoordmasjien se boodskap het seker iets soos die volgende geklink: ‘Jy het die huis van Nehemia bereik. Ek is nie hier nie. Ek werk tans aan ‘n groot projek. As dit Sanballat, Tobija of Gesem is, julle mors julle tyd. As dit enigiemand anders is, los asseblief ‘n boodskap na die biep.’ Wanneer jy besluit wat jou lewensprioriteite is, sal hulle jou help om oor alles anders te besluit. Hulle sal jou help om jou oog op die bal te hou. Wanneer dit voel of die lewe teen jou is, vra jouself af: ‘Wat is my grootste prioriteite vir hierdie dag en week?’ Besluit dit in jou gedagtes en fokus dan daarop soos jy die taak wat God jou opgelê het, nastreef.

Sielskos: Hand 24-26; Matt 11:1-9; Ps 1; Spr 16:10-15

Bly gefokus (1)

2019-07-19
Spreuke 4:25 NLV

Jare gelede het ‘n vliegtuig in Florida se Everglades neergestort. Soos die vliegtuig die lughawe in Miami genader het, het die ligaanwyser vir korrekte ontplooiing van die landingstelsel gefaal. Hulle het in sirkels oor die moerasse van die Everglades gevlieg terwyl die bemanningslede probeer kyk het of die landingstelsel definitief nie ontplooi het nie, en of die liggie van die aanwysingslig nie dalk foutief was nie. Toe die vlugingenieur die ligaanwyser probeer verwyder om te kyk of dit foutief is, kon hy dit nie los kry nie. Soos hulle met die liggie gesukkel het, het hulle nie agtergekom dat hulle hoogte begin verloor nie. Gevolglik het die vliegtuig reg in die moeras ingevlieg en 101 mense aan boord het gesterf. Alles was verlore, omdat die bemanning besig was om met ‘n gloeilampie te sukkel en hulle oë van dit wat die belangrikste was, afgehaal het. In die lewe sal jy in die versoeking kom om te fokus op dit wat dringend is, eerder as dit wat belangrik is. Soos jy probeer om jou oog op die bal te hou, sal hierdie dilemma konstant jou fokus bedreig: ‘Moet ek die beste kies of net dit wat goed is? Moet ek die korttermyn- of die langtermynperspektief kies?’ Jy moenie fokus verloor nie; jou taak is te belangrik. Salomo som dit as volg op: ‘Kyk reguit vorentoe; bly gefokus op wat voor jou is. Merk jou pad duidelik af, dan sal jy seker wees waarheen jy gaan. Moenie links of regs van jou koers afwyk nie…’ (Spreuke 4:25-27 NLV).

Sielskos: Hand 22-23; Matt 10:32-42; Ps 65; Spr 16:8-9

Moenie die duiwel ‘n vastrapplek gee nie

2019-03-21
Efesiërs 4:26-27 NLV

Die Bybel sê: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie.’ Woede gee vir die duiwel grond om op te beweeg. Bitterheid nooi hom in om spasie in jou hart te kom beset. Wanneer jy dit doen, sal hy sy intrek neem en die plek met dinge soos skinderstories, laster en humeurigheid laat stink – enige tyd wanneer jy een van hierdie dinge doen, het jy vir Satan ‘n vastrapplek gegee. Wat moet jy dan doen? Gooi hom uit. Moenie ‘n sekonde van jou dag aan hom afstaan nie. Sê vir hom om in die Naam van Jesus sy tasse te pak en die pad te vat. Begin die proses van vergifnis. Moenie boekhou van die kwaad wat mense aan jou gedoen het nie. Bid vir jou vyande, eerder as om planne teen hulle te smee. Haat die verkeerde dade, sonder om die oortreders te haat. Begin om te fokus op dit wat Jesus vir jou gedoen het, eerder as op dit wat die oortreders aan jou gedoen het. So verregaande soos wat dit dalk mag klink, het Jesus ook vir hulle gesterf. As Hý dink dat hulle vergifnis verdien, dan verdien hulle dit. Maak dit vergifnis maklik? Nee. Dit kom met stampe en stote en het goeie en slegte dae. Sommige dae wanneer jy dink dat jou wond genees het en dat jy heeltemal daar oor is, sal iemand die rofie afstamp en die pyn sal terugkeer. Moet jou nie daaroor bekommer nie. Wanneer dit by vergifnis kom, is ons almal beginners. So lank as wat jy probeer om te vergewe, vergewe jy. Dis wanneer jy nie meer probeer om te vergewe nie, wat jy die duiwel ‘n vastrapplek gee.

Sielskos: Job 32-34; Luk 19:11-19; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21