2024-01-19
Kolossense 4:2 NLV
Die woord ‘waaksaam’ verwys na die Ou Testamentiese gebruik om op ‘n stadsmuur te sit en wag te hou. Hierdie manne was die eerste mense wat gewapende magte of reisende handelaars sien aankom het. Hulle het die optimale uitkykpunt gehad. Hulle het gesien wat niemand anders kon sien nie. Hulle het alles vroeër as almal anders gesien.
Dit is presies wat gebeur wanneer ons bid. Ons sien wat niemand anders sien nie en ons sien dit vroeër as ander mense. Hoekom? Omdat gebed ons van God se oogpunt voorsien; dit verhoog ons bewustheid en gee ons ‘n sesde sintuig wat ons in staat stel om geestelike realiteite te kan waarneem.
In hulle bekende boek, Geeks and Geezers, maak die besigheidskenners Warren Bennis en Robert Thomas ‘n interessante opmerking oor wat suksesvolle leiers in elke veld in gemeen het. Bennis en Thomas noem hulle eersteklas waarnemers. ‘Wanneer jy ‘n eersteklas waarnemer is, stel dit jou in staat om talent te ontdek, geleenthede te identifiseer en struikelblokke te vermy. Leiers wat oor en oor sukses behaal begryp konteks meesterlik. Dis een van daardie karaktereienskappe, soos smaak, wat moeilik is om te ontleed. Die vermoë om ‘n reeks faktore te oorweeg, sommige so subtiel soos hoe verskillende groepe mense ‘n gebaar sal interpreteer, is een van die kenmerke van ‘n ware leier.’
Gebed verander ons in eersteklas waarnemers. Dit help ons om te sien wat God wil hê ons moet waarneem. Hoe meer jy bid, hoe meer neem jy waar. Hoe minder jy bid, hoe minder neem jy waar. Dis so eenvoudig soos dit. Hier is ‘n Bybelse formule vir sukses in enige area van die lewe: ‘Hou aan om te bid. Bid terwyl julle geestelik waaksaam en dankbaar is.’
Sielskos: Dan 3-4; Matt 7:1-14; Ps 84; Spr 2:16-19
2023-10-24
Jeremia 33:3 NLV
Lees die volgende: ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie.’ Wie het dit gesê? Die God van die heelal! Wat dink jy is jou kanse om die president of die eerste minister op die telefoon in die hande te kry? Niks! Tog kan jy ongeag jou opvoeding, gesofistikeerdheid, etniese agtergrond of finansiële status met God praat en Hy sal jou antwoord. Hy beloof ook nie net om jou gebede te beantwoord nie, maar om jou ongelooflike dinge te vertel waarvan jy niks weet nie.
Soms sê ons: ‘Dis die dinge wat ek nie weet nie wat my bang maak.’ Besighede sluit en werkers word afgelê. Roetine mediese ondersoeke openbaar lewensbedreigende uitdagings. Terroriste bedreig ons veiligheid en politici verraai ons vertroue in hulle. Die klein seuntjie het gebid: ‘Here, seën asseblief vir Mamma, Pappa, bababoetie en vir my. Here, kyk ook asseblief mooi na Uself, want as iets met U gebeur, is ons almal in die moeilikheid!’
Jy sê: ‘Maar ek is nie seker of God al ooit met my gepraat het nie.’ Jy moet egter met Hom praat en toelaat dat Hy deur sy Woord en sy inwonende Gees met jou praat. Soms wag God voor Hy jou antwoord omdat Hy op twee plekke gelyk werk. Hy werk aan die probleem waaroor jy gebid het en Hy werk om jou daarvoor gereed te kry. Soms neem die tweede gedeelte langer as die eerste. Soos die bekende gesang lui: ‘O what peace we often forfeit, O what needless pain we bear, All because we do not carry everything to God in prayer!’
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 6:1-15; Ps 126; Spr 24:10
2023-10-20
Eksodus 32:13 NLV
As jy nie seker is of jou gebede die situasie waarin jy jou tans bevind kan verander nie, lees die verhaal van Moses wat by God intree om nie die Israeliete weens die goue kalf en afgodery te vernietig nie. ‘Maar Moses het by die Here gepleit om dit nie te doen nie… Onthou tog dat U ‘n ooreenkoms gesluit het met u dienaars Abraham, Isak en Jakob. U het vir hulle belowe: ‘Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre in die lug. Ek sal hierdie land vir julle nageslag gee om vir altyd in te woon.’ Die Here het toe afgesien van die ramp wat Hy oor sy volk wou bring’ (verse 11, 13-14 NLV).
Moses was op sy knieë vir sy volk se lewens, hy het sy vinger gewys, sy hande opgelig, trane gehuil, sy mantel geskeur en soos Jakob by die spruit, gestoei. Let op hoe hy gebid het. Hy het God aan sy verbondsbeloftes herinner. Hy het op die Woord gestaan! As daar een ding is wat God se aandag sal trek en Hom aan jou behoeftes sal laat voldoen, is dit om op sy Woord te staan.
God se woord oor die saak is altyd sy wil in die saak. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV).
Jy is soos ‘n elektriese draad waardeur God se krag en teenwoordigheid in enige situasie kan vloei en deur gebed skakel jy die skakelaar aan. In plaas daarvan om dus oor die situasie te kla, begin daaroor bid.
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 24:5-6
2023-07-02
1 Johannes 5:4 NLV
Teëspoed is dikwels die Vyand se poging om die volgende seisoen van God se seën in jou lewe te steel. As jy vandag aangeval word, moet jy die volgende drie dinge doen:
1) Staan op en veg terug. Jy sal in die versoeking kom om jouself te onttrek en bedees en passief te word, veral as jy seergekry het. Moet dit egter nie doen nie. Satan is mal oor skaam, vreesbevange tipes, maar regte vegters intimideer hom. Wees dus dapper en eis die volgende belofte op: ‘…Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV).
2) Gebruik al jou wapens. Die Bybel sê: ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV). Gebed is ‘n wapen – gebruik dit daagliks. Bid saam met ander mense. Maak seker jy ken die voorbidders in jou lewe, want hulle het invloed by God. Die Skrif is ook ‘n wapen, gebruik dit dus. ‘Gebruik… as swaard, die Gees, dit is God se woord’ (Efesiërs 6:17 NLV). Vind uit wat God se Woord oor jou situasie sê en gebruik dit dan as swaard om die Vyand se kop af te kap.
3) Probeer om die groter prentjie te sien. Min dinge is ooit soos dit aanvanklik lyk, kyk dus verby die oomblik en kyk of iets goeds in jou gebore word. Na teëspoed kom seën en guns, vestig dus jou oë dus op die groter prentjie. Paulus, wat onder meedoënlose aanvalle gely het, het gesê: ‘Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan’ (2 Korintiërs 4:17 NLV). Jy kan vandag wen.
Sielskos: Jos 6:1-25; Luke 7:36-50
2023-03-08
Ps 106">Psalm 23:6 DB
Die Psalmdigter het nie woorde soos ‘miskien,’ of ‘dalk,’ of ‘moontlik,’ of ‘hopelik’ gebruik nie. Nee, hy sê: ‘sal,’ wat ‘n term van sekerheid is. ‘Sal’ beteken vir seker; sonder twyfel!
Daar is baie dinge in die lewe waarvan jy nie seker kan wees nie. Jy gaan vir ‘n doktersondersoek en ontdek dat jy ‘n kwaadaardige gewas het. Jy werk vir dieselfde maatskappy vir jare met die geloof dat jou werk veilig is, totdat hulle jou as gevolg van finansiële redes afdank. Jy bid vir jou kinders, leef voorbeeldig en leer hulle wat reg en verkeerd is, maar bevind jou dan een nag by die polisiestasie nadat hulle as gevolg van dronkbestuur of dwelms gearresteer is.
As verloste kind van God, is hier twee dinge waarvan jy seker kan wees: God se goedheid en genade. Wat is jou konsep van God? Dis ‘n baie belangrike vraag, dink dus daaroor na voor jy antwoord. Jou konsep van God sal jou vertroue in Hom bepaal. Dawid was ver van perfek af. Sommige van sy mannewales sou die voorblad van die skinderblaaie gehaal het. Hy het egter nooit aan God se goedheid en genade teenoor hom getwyfel nie: ‘…Omdat God aan my kant is, weet ek dit beslis’ (Psalm 56:10 NLV). Jesus het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV).
Sy goedheid waarborg dat daar aan elke behoefte voldoen kan word en sy genade waarborg dat elke sonde vergewe kan word. Net soos skaaphonde verlore skape terug na die trop toe dryf, so sal God se goedheid en genade jou elke keer terug na sy liefdevolle arms toe dryf.
Sielskos: Eks 28-29; Luk 14:15-24; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2