Word ‘n versorger
2021-07-21Matteus 9:36 NLV
Die Bybel sê: ‘Leiers moet korrupsie met wortel en tak uitroei. Goeie leiers is altyd eerlik’ (Spreuke 16:12 DB). Jesus was ‘n goeie leier. Hy was lief vir mense, maar Hy het hulle nooit vir sy eie doelwitte gebruik nie. Hy was besig, maar nooit te besig om te stop en hulle te help nie.
Jesus het die volgende in sy gelykenis van die Goeie Samaritaan gesê: ‘Toe het ‘n veragte Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry. Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ‘n herberg geneem en daar verder versorg’ (Lukas 10:33-34 NLV).
Om iemand te lei, moet jy in staat wees om hulle te kan beïnvloed en jy doen dit deur die tyd te neem om hulle te versorg. Die kern van die versorgingsproses is ‘n opregte omgee vir ander mense. As jy mense wil help en positief wil beïnvloed, kan jy hulle nie minag of nie van hulle hou nie, want hulle sal dit aanvoel. Jy moet hulle liefhê en respekteer.
Miskien wonder jy hoekom jy die rol van versorger moet aanneem; is versorging nie iets wat mense êrens anders, soos by hulle familie, moet kry nie? Baie van die mense waarmee jy elke dag in kontak kom, is desperaat vir bemoediging en dis hartseer dat indien hulle dit nie van jou af kry nie, daar niemand anders is wat dit vir hulle sal gee nie. Wanneer jy ‘n versorger in die lewe van ‘n ander persoon word, het jy ‘n opregte geleentheid om hulle ten goede en vir God te beïnvloed. Word dus ‘n versorger!
Sielskos: Hand 20-21; Luk 8:40-56; Ps 14; Spr 16:6-7