Word jy gelei of word jy aangedryf?

2023-07-20
Eksodus 18:17-18 NLV

Voel jy of daar nie genoeg van jou is om alles te doen nie? Asof jy op die rand van die krans staan en op die punt is om oor die afgrond te gaan? Miskien is die rede daarvoor dat jy baie meer doen as wat God bedoel het jy moet doen. Jy sien, wanneer God sy doel vir jou lewe openbaar, gee Hy ook vir jou sy krag om dit uit te voer.

Gewoonlik is dit eenvoudig. Een van die sekerste maniere om te weet dat jy in God se wil wandel is dat jy gelei en nie aangedryf sal voel nie. Rus jy minder en werk jy meer? Lees jy jou Bybel en bid jy minder en bekommer jou meer? Miskien hardloop jy soos Moses van een afspraak na die volgende: jy eet in die verbygaan, haal spertye en probeer om almal se probleme op te los terwyl jou eie ophoop.

Ander mense mag dalk daarmee beïndruk wees, maar Moses se skoonpa, Jetro, was nie. ‘…Hoekom doen jy alles self?..’ (vers 14 NLV). Moses het probeer om sy skedule te regverdig, maar Jetro het nie daarvoor geval nie. Hy het vir Moses gesê: ‘…Jy hanteer die saak nie reg nie. Jy… sal die pas nie kan volhou nie…’ Wat het hy vir Moses gesê om te doen? Om die las met ander mense te deel! ‘…Hulle sal die las van jou skouers afhaal en dit saam met jou dra… [dan] sal jy die vrag kan dra en almal sal tevrede wees’ (verse 22-23 NLV).

Wanneer het ‘n bloeiende maagseer ‘n teken van geestelikheid, of ‘n sewentig-uur werksweek die teken van doeltreffendheid geword? Wees eerlik: Is jy te hardkoppig om stadiger te beweeg, te onseker om nee te sê, of te trots om vir hulp te vra? Indien dit die geval is, praat met God daaroor.

Sielskos: Hand 8-9; Matt 27:1-10; Ps 140; Spr 16:3