Wil jy suksesvol wees? Raadpleeg die Here.

2018-12-27
2 Kronieke 26:5 NLV

Iemand het gesê, ‘Voor jy die leer van sukses uitklim, moet jy eers seker maak dat die leer teen die regte muur leun.’ Kom ons wees duidelik. Wanneer jou bedoeling is om God se wil te doen en Hom te eer, beloof Hy sukses aan jou. Dis ‘n fout om alle rykdom met vleeslikheid te assosieer en dit as ‘wêrelds’ te sien. Vooruitstrewende, toegewyde Christene in elke generasie was instrumenteel daarin om die evangelie na die wêreld toe te neem en God se koninkryk te vestig. Lees hierdie twee beloftes. ‘Oorvloed en rykdom vul sy huis, sy regverdigheid duur vir altyd’ (Psalm 112:3 NLV). ‘Met die een hand gee wysheid ‘n lang lewe. Met die ander hand rykdom en eer’ (Spreuke 3:16 NLV). Sommige van ons het ‘n valse konsep van sukses. Hier is ‘n verhaal van drie mans wat gesels het oor wat sukses vir hulle beteken. Een het gesê, ‘Sukses sal wees om na die Withuis uitgenooi te word vir ‘n persoonlike ontmoeting met die president.’ Die tweede man het gesê, ‘Vir my sal sukses beteken om die president in sy kantoor te ontmoet en wanneer sy telefoon lui, sal hy dit ignoreer om sodoende nie ons gesprek te onderbreek nie.’ Die derde man het gesê, “Vir my sal sukses beteken om die president in sy kantoor te ontmoet en wanneer sy telefoon lui, sal hy dit antwoord, dit na my uithou en sê, ‘Dis vir jou.'” As jy na Amazon.com toe gaan, sal jy meer as tweeduisend vyfhonderd boeke kry oor hoe om suksesvol te wees. Jy het egter net een boek nodig: God se Woord. ‘…So lank as wat hy die Here se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee.’ Wil jy suksesvol wees? Raadpleeg die Here.

Sielskos: Job 29-31; Luk 2:8-20; Ps 117; Pred 10:15-19