Werk aan jou karakter
2023-08-16Spreuke 20:7 NLV
Wanneer die Bybel van integriteit praat, beteken dit om ‘n goeie karakter te hê. ‘n Goeie karakter stel grense. Dit mag dalk nie altyd bepaal wat jy sal doen nie, maar dit bepaal altyd wat jy nie sal doen nie. Karakter laat jou besef hoeveel jy gewillig is om te betaal om te kry wat jy wil hê. Die Bybel sê: ‘Hy wat opreg en eerlik leef, se kinders is baie gelukkig.’
Karakter hoef nie in die kollig te wees en oormatig in beheer te wees nie. Dit wend hom ook nie na intimidasie of skande om sy eie sin te kry nie. Die persoon wat dink dat hy of sy deur te jok, te kul of te manipuleer kan kry wat hulle wil hê, is ongelukkig verkeerd. Verstaan die volgende: Maak nie saak waar jy gaan nie, die ware jy sal uiteindelik daar opdaag!
As jy nie aan jou karakter werk nie, sal jy nie in staat wees om gesonde verhoudings te bou nie. Opregte verhoudings verg integriteit; iemand wat konsekwente karakter in alle omstandighede aan die dag lê; iemand wat by die reëls hou en op wie mens kan staat maak; iemand wat krediet gee waar dit verskuldig is; iemand wat volgens geloof leef; iemand wat God vertrou om hom in staat te stel om alles waarvoor hy of sy geskep is en geroep is om te doen, te bereik.
Die Bybel sê vir ons dat die goddeloses vir ‘n seisoen voorspoedig mag wees, maar dat hulle dit nie sal kan volhou nie. Hulle sal ook uiteindelik beslis nie seëvier nie (sien Spreuke 11:21). Die Bybel sê: ‘Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers. Die valsheid van onbetroubare mense bring hulle ondergang’ (Spreuke 11:3 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – werk aan jou karakter.
Sielskos: 1 Pet 3-5; Mark 5:31-43; Ps 119:65-72; Spr 17:23-26