Wenke vir reisigers (2)
2018-12-19Efesiërs 1:11 DB
God se wil is nie net vir jou om eenvoudig te oorleef nie, maar om te floreer. Satan sal jou aanval, maar hy kan jou nie van God se liefde skei of Hom daarvan weerhou om jou te seën nie. Dink net hoe gefrustreerd is hy daaroor! Wanneer jy weet dat God iets aan jou belowe het, sal dit jou die krag gee om dinge te oorkom wat ander mense nie kan nie. Al die water in die see sal jou nie verdrink nie, solank as wat dit nie in die boot kom nie. Dis wat jy inlaat wat jou seermaak. Hou dus wag oor jou hart. Hou jou visie lewendig en dit sal jou lewendig hou. Die rede hoekom baie van ons misluk, is omdat ons dit wat ons die meeste wil hê, inruil vir dit wat ons nou wil hê. Nee; hoe groter die uitdaging is, hoe groter is die beloning wat vir jou wag. Paulus, die apostel, het sy oog op die prys gehad toe hy geskryf het, ‘…staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd’ (1 Korintiërs 15:58 NLV). Die enigste ding wat die lewe jou skuld, is ‘n geleentheid om te groei. Moses het ‘n paleis prysgegee, Elisa het ‘n plaas prysgegee en Lukas het van ‘n mediese praktyk weggeloop om God te volg. Dis wat jy gewillig is om prys te gee wat bepaal waarmee God jou kan vertrou. Hou dus aan om vooruit te beweeg en hou styf aan jou God-gegewe doelwit vas. Wat jy nie op die oomblik het nie, kan joune in die toekoms wees as jy aanhou groei, gefokus is en getrou bly.
Sielskos: Job 8-10; Luk 1:19-25; Ps 57; Pred 7:13-15