Wen die stryd teen apatie

2023-12-17
2 Timoteus 1:6 NLV

Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Dit is waarom ek jou daaraan herinner om die geestelike gawe, wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur aan te blaas.’ Hierdie Skrifgedeelte beteken dat, selfs as jy talentvol is, jy apaties kan word as jy nie aanhou om die regte dinge te doen nie. ‘Ons moet dus baie styf vashou aan die boodskap wat ons gehoor het sodat ons tog nie dalk wegdryf nie’ (Hebreërs 2:1 NLV). Kom ons kyk na twee dinge wat jou passie, entoesiasme, motivering en fokus by jou kan steel:

1) Gebrek aan doelwitte. ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ (Spreuke 29:18 NLV). Wat het jou altyd opgewonde gemaak? Wat het jou belangstelling daarin vernietig? Is dit ‘n begeerte wat jy weer kan laat oplewe? Skryf dit neer. Ignoreer die potensiële koste daaraan verbonde of redes hoekom dit dalk nie mag werk nie. Gee net jou gedagtes die geleentheid om optimisties en opgewonde oor iets te voel.

2) Verkeerde doelwitte. Streef jy ‘n doel na wat deur iemand anders op jou afgedwing is? Of roei jy dalk teen die gety van God se wil vir jou lewe, soos Jona voor hy deur die groot vis ingesluk is? Vra Hom om seker te maak wat die geval is. Het God jou werklik gelei om jouself met daardie buitensporige item te bederf wat nou van jou vereis om twee werke te behartig? Of dalk het die tyd vir ‘n doelwit wat deel was van God se plan vir ‘n spesifieke seisoen van jou lewe, tot ‘n einde gekom. Om aan te beweeg is soms moeilik, maar o, die vreugde en vrede om te weet dat jy in die middel van God se volmaakte wil is!

Sielskos: Jona 2; Luk 11:29-36