Weier om in vrees te leef (3)

2023-05-29
1 Johannes 4:18 NLV

Wanneer God vir jou sê om nie te vrees nie, sê Hy inderwaarheid dat jy wel vrees gaan ervaar, maar dat jy dit kan oorwin. Jy kan ten spyte daarvan optree. Die Bybel sê: ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie…’ Ons dink soms foutiewelik dat hierdie teks beteken dat as ons God waarlik liefhet, sal ons nie vrees nie. Nee, die enigste ware en perfekte liefde is God se liefde vir jou. Dis onvoorwaardelike liefde.

Die wete dat Hy altyd lief is vir jou, saam met jou stap, jou verdedig, jou ondersteun en beloof om jou in alles wat jy doen te seën, is wat die vrees laat verdwyn. Dit versterk ook jou geloof. ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel…’ (Hebreërs 11:6 NLV). Wanneer jy weet dat God tevrede is met jou, begin jy bo jou vrese uitstyg. Wanneer vrees aan jou deur kom klop en jou gevul met geloof aantref, kan dit nie binnekom nie.

Dis hoekom jy deurlopend op God se Woord moet mediteer en jou gesprekke met geloof moet vul. Die Bybel sê: ‘want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie’ (2 Korintiërs 5:7 NLV). Hoe het jy geleer om te loop? Deur elke keer weer op te staan wanneer jy geval het, totdat jy dit uiteindelik bemeester het. Wanneer jy jou gedagtes daarop instel om vrees te beveg deur woorde van geloof te spreek, sal die Heilige Gees jou te hulp kom en jou versterk. Soos een predikant sê: ‘Moed is nie die afwesigheid van vrees nie, maar vooruitgang in vrees se teenwoordigheid.’ Hou dus net aan om vorentoe te beweeg en jy sal daar uitkom!

Sielskos: 1 Kon 6-7; Matt 13:10-23; Ps 101; Spr 12:12-13