Weier om in die huis van bitterheid te woon
2018-12-09Efesiërs 4:31 NLV
In 1882 het ‘n besigheidsman genaamd Joseph Richardson ‘n smal stuk grond in Lexingtonstraat in New York besit. Dit was 1.5 meter breed en 31.5 meter lank. ‘n Ander besigheidsman, Hyman N. Sarner, het ‘n gewone stuk grond langs Richardson se maer ene besit. Hy wou woonstelle daar op bou wat op die straat uitkyk, dus het hy Richardson ‘n duisend dollar vir die smal stuk grond aangebied. Richardson was diep gegrief deur hierdie lae aanbod en het vyfduisend dollars daarvoor geëis. Sarner het geweier en Richardson het hom ‘n gierigaard genoem. Sarner het aangeneem dat die grond onbeset sou bly en het die argitek opdrag gegee om die woonstelblok te ontwerp met die vensters wat oor Richardson se grond uitkyk. Toe Richardson egter die gebou sien, het hy homself voorgeneem om die uitsig te blokkeer; niemand sou ‘n gratis uitsig oor sy stuk grond geniet nie! Richardson, wat op daardie stadium vyf-en-sewentig jaar oud was, het toe ‘n woonstelblok van 1.5 meter breed, 31.5 meter lank en vier verdiepings hoog op sy grond gebou. Toe die bouery klaar was, het hy en sy vrou daar ingetrek. Net een mens kon op ‘n slag by die trappe opklim of in die gang afloop. Die eetkamertafel was 45 sentimeter breed. ‘n Koerantverslaggewer wat bietjie geset was het een keer op die trappe vasgesit en kon net ontsnap nadat hy sy klere uitgetrek het. Die gebou is die ‘Huis van Bitterheid’ gedoop. Richardson en sy vrou het die laaste veertien jaar van sy lewe daar spandeer. In 1915 is die gebou afgebreek. Weerwraak bou ‘n eensame huis met net genoeg spasie vir een persoon. Die lewens van die inwoners word op een doelwit gefokus: Om iemand anders se lewe ellendig te maak. Hulle kry dit reg. Hulle maak hulle eie lewe ellendig!
Sielskos: Matt 4:21-22; Matt 17:1-9; Joh 19:25-27; Joh 21:20-24