Weet wie in jou lewe hoort

2022-09-28
Spreuke 17:17 NLV

Maak nie saak waar jy woon of wat se werk jy doen nie, jy sal met hierdie drie tipes mense in aanraking kom: 1) Die kritici. Kom ons wees eerlik, die meeste mense is gemaklik met die status quo. Hulle vrees nie net verandering nie, maar sal dit dikwels aanval. As jy dit dus waag om anders te wees, moet jy voorbereid wees om deur rowwe waters te seil. Die apostel Paulus se kritici het na hom as ‘n mal man, ‘n dwaas en ‘n brabbelaar verwys. Hoekom sal jy dan verwag dat dieselfde skare jou beter sal behandel?

2) Die versigtiges. Hierdie mense sal nie ‘n beskuldigende vinger wys nie, maar hulle sal ook nie ‘n helpende hand uitreik nie. Wanneer jy in die moeilikheid kom sal hulle hulself van jou distansieer, in die vrees dat hulle dalk deur jou vermeende aanspreeklikhede besmet kan word. Hulle sal basies eers wag en kyk of jy dit deur die tonnel maak en ander kant uitkom. Hulle sal dan wag en kyk om te sien wie jou aanvaar en of jy tot hulle voordeel kan wees. Eers dan sal hulle moontlik weer met jou kontak maak. Hierdie mense is gebruikers. Hulle is nie sleg nie; hulle is net selfdienend. Wees dus lief vir hulle, maar moenie op hulle steun nie.

3) Die toegewydes. ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is.’ Selfs wanneer hulle die ergste van jou hoor, glo die toegewydes steeds die beste van jou. Hulle waardeer jou vir jou sterkpunte en bewys genade wanneer hulle jou swakpunte hanteer. Hierdie mense is van onskatbare waarde, want jy kan altyd op hulle reken. Wanneer God dus so ‘n persoon in jou lewe plaas, beskerm en koester jou verhouding met hulle.

Sielskos: Hoog 1-4; Mark 15:12-20; Ps 13; Spr 21:22-27