Weet wie in jou lewe hoort
2024-07-17Rigters 7:4 NLV
Gideon het twee-en-dertig duisend soldate gekies om teen die Midianiete te veg. Die waarheid is dat jy nie baie mense in jou lewe nodig het nie, maar dat jy die regte mense nodig het. Toe God dus vir Gideon sê: ‘Sê vir die manskappe elkeen wat bang is om te gaan veg, mag… teruggaan huis toe…’ (vers 3 NLV), het twee-en-twintig duisend soldate teruggegaan. God het egter vir Gideon gesê dat hy steeds te veel soldate het en bygevoeg: ‘…Vat hulle af na die water toe. Ek sal daar vir jou uitsoek watter saam met jou moet gaan en watter nie’ (vers 4 NLV). Gevolglik het Gideon met driehonderd soldate opgeëindig – maar hulle het die geveg gewen! Moenie oor getalle bekommerd wees nie, God kan steeds meer met minder doen.
God het dieselfde Gees wat op Moses gerus het, geneem en dit op sewentig leiers geplaas sodat hulle Moses kon help (sien Numeri 11:16-17). Dis wat jy nodig het – mense met dieselfde gees as jy. Net omdat iemand talentvol is, beteken nie dat hulle in jou lewe hoort nie. As geestelike gawes die standaard waarvolgens ons meet is, wat dan van Bileam se donkie? Hy het geprofeteer (sien Numeri 22:21-33)! Die belangrike vraag is: ‘Het hierdie persoon die regte gees?’
Soos jy saam met ander werk, moet jy besef dat ons almal sekere dinge in gemeen het. Mense wil graag spesiaal voel, komplimenteer hulle dus (maak net seker dat dit opreg is). Hulle wil ‘n beter toekoms hê, gee hulle dus hoop. Hulle wil rigting hê, lei hulle dus. Hulle raak terneergedruk, bemoedig hulle dus. Hulle wil sukses behaal, help hulle dus om dit te bereik. Jou sukses hang daarvan af dat jy die regte mense in jou lewe het – en dis hoekom jy moet bid en op God se leiding moet staatmaak.
Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Luk 7:24-35; Ps 118:10-18; Spr 18:7-9