Wees vrygewig teenoor God

2020-12-23
1 Konings 17:13 NLV

Dink aan ‘n ma en kind in ‘n ernstige hongersnood, met net genoeg kos vir een laaste maaltyd. Dink nou aan Elia wat sê: ‘Deel met my wat jy het. Moenie bang wees nie; God sal seker maak dat jy meer as genoeg het om jou deur hierdie tyd te bring.’ Wat sou jy gedoen het? Die vrou het gekies om God te gehoorsaam. Gevolglik het sy haar hongersnood oorleef en het Jesus in een van sy preke aan haar hulde gebring.

Daar is basies twee soorte gewers: diegene wat dit wat oorbly vir God gee en diegene wat aan Hom die beste van hulle oes gee (sien Spreuke 3:9). Die eerste tipe gewer sien hulself as verantwoordelik vir hulle eie behoeftes, dus gaan dit wat oorbly na God toe. Die oomblik wat jy dan voor finansiële onsekerheid te staan kom, neem vrygewigheid die agtersitplek in.

Aan die ander kant weet diegene wat die beste oes aan God gee, dat Hy die bron van alles wat hulle het, is. Hulle is gemotiveerd om eerste in sy belange en tweedens in hul eie belange te belê. Hulle glo die skriftuurlike beginsel dat jy altyd meer oes as wat jy saai (sien 2 Korintiërs 9:6-11).

Vrees sal veroorsaak dat jy irrasioneel word en teenoorgesteld optree as wat jy in jou hart glo. Maak dit nie sin om God met jou finansies te vertrou nie, aangesien dit alles in elke geval aan Hom behoort? En om Hom met iets te vertrou wat in elk geval buite jou beheer is nie? Dink daaroor: Jy sê jy vertrou God met jou ewige lewe, maar tog verwerp jy sy aanbod om jou finansiële vennoot te wees. Maak dit sin? Die waarheid is dat jy nooit meer as God kan gee nie – wees dus vrygewig!

Sielskos: Sag 5-8; Matt 1:6b-11; Ps 113; Spr 31:14-17