Wees vreugdevol
2023-06-28Psalm 90:14 NLV
Christus se saak word nie aangehelp wanneer sy volgelinge met lang gesigte rondloop nie. Jy sê: ‘Maar ek het probleme.’ Almal het. Toe die apostel Paulus in die tronk was, het hy geskryf: ‘Wees altyd bly omdat julle Christene is…’ (Filippense 4:4 NLV). Om vreugdevol te wees is iets wat jy ten spyte van jou omstandighede doen, nie as gevolg daarvan nie. Die Bybel sê: ‘Met blydskap sal julle drink van die fonteine van redding!’ (Jesaja 12:3 NLV). God het ‘n fontein van vreugde binne in jou geplaas, maar jy moet die vreugde daaruit put en dit met ander mense deel.
Vreugde is aansteeklik. Geluk reis deur verhoudingsnetwerke soos rimpelings op ‘n dam. Dit is so kragtig dat dit drie grade van skeiding kan deurdring. Dit beteken dat jou gelukskwosiënt meer geneig is om te verhoog wanneer ‘n vriend van ‘n vriend van ‘n vriend gelukkig is. Ons hunker na vreugde. Die Psalmdigter het gesê: ‘Vul ons met u genade in die oggend, dan sing ons van vreugde al ons dae’ (Psalm 90:14 NLV).
Vreugdevolle mense laat ons lewendig voel. Die Bybel sê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ (Nehemia 8:10 NLV). Ons is lief vir vreugde, maar ons vergeet dikwels hoe kragtig dit is. Vreugde gee ons die krag om versoeking te weerstaan. Dit gee ons die vermoë om uit te hou. Dis die gom wat ons verhoudings aanmekaar laat kleef. Dit gee ons die energie om lief te hê. Ons het nie net suurstof, kos en water nodig nie; ons het ook vreugde nodig. Die persoon wat dit bring, is soos ‘n oase in die woestyn. Wees dus vandag vreugdevol.
Sielskos: Jer 4-6; Matt 22:15-22; Ps 59:1-8; Spr 14:21-22