Wees realisties oor jou vermoëns

2019-06-27
Romeine 12:3 ABA

God het vir Moses gesê: ‘…Ek stuur jou na die farao toe. Jy gaan my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte’ (Eksodus 3:10 NLV). In plaas van om te dink: ‘Wat ‘n eer,’ het Moses geantwoord: ‘Maar wie is ek dan… om die Israeliete uit Egipte weg te lei?’ (Eksodus 3:11 NLV). Moses se kinderjare as die farao se aangenome kleinseun het hom vir die werk voorberei, maar hy was nou in ballingskap nadat hy ‘n Egiptenaar vermoor het. Dis maklik om Moses se huiwering te kritiseer, maar Mark Roberts merk op: ‘Wyse leiers het ‘n sekere huiwering wat uit persoonlike nederigheid kom en omdat hulle die verantwoordelikheid van leierskap ernstig opneem. God het vir Moses gekies met die volle wete dat hy huiwerig sou wees. God kon iemand anders met meer selfvertroue gekies het, maar Hy het nie. Dink net hoe anders sou hierdie toneel gewees het as Moses geantwoord het: ‘Geen probleem, God. Ek is die regte man vir die taak. Ek het jare se ondervinding van die farao se huishouding!’ Sou iemand met sulke oorvloedige selfvertroue reg vir die werk gewees het? Ek twyfel. As ons huiwering om te lei uit ‘n realistiese sin van ons beperkings en ‘n opregte erkenning van die swaar verantwoordelikheid kom, posisioneer dit ons perfek om gesonde vertroue in ons leierskapsvaardighede te hê. In plaas daarvan om ‘n lys van Moses se vermoëns en prestasies deur te gee, het God eenvoudig gesê: ‘…Ek sal by jou wees…’ (vers 12 NLV).’ Dit maak nie saak hoeveel jy weet of hoeveel mense jou volg nie, die toets van ware leierskap is om in God se krag, nie jou eie nie, op te tree. ‘Want in die koninkryk van God gaan dit nie om blote praatjies nie, maar om ‘n lewe in die krag van God’ (1 Korintiërs 4:20 NLV).

Sielskos: Jer 28-30; Matt 3:11-4:11; Ps 95; Spr 14:29-33