Wees op-en-wakker
2023-07-111 Korintiërs 16:13 NLV
Soms ervaar jy meer probleme wanneer jy ‘n Christen word as daar voor. ‘Dink terug aan die mooi tye van vroeër toe God se lig vir die eerste keer in julle lewens verskyn het. Onthou hoe julle ten spyte van al die opoffering en lyding volhard het’ (Hebreërs 10:32 NLV). Kyk na Christus se lewe. “Ná Jesus se doop… gaan die hemele toe vir Hom oop… Daar kom toe ‘n stem uit die hemel wat sê: ‘Hý is my geliefde Seun, ‘n Kind so na my hart'” (Matteus 3:16-17 NLV). Dan lees ons: ‘Daarop het die Gees Jesus die woestyn ingelei om deur die duiwel op die proef gestel te word’ (Matteus 4:1 NLV). Eerste die roeping, dan die konflik. Dis hoe dit nog steeds werk!
Toe Paulus tot die bediening geroep is, is aan hom ‘…’n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my te kasty’ (2 Korintiërs 12:7 NLV). Wanneer jy dus vir God ja sê, moet jy daarop voorbereid wees om aangeval te word. Satan val dit wat hy vrees aan en hy vrees God se plan vir jou lewe. Die enigste veilige plek is dus om in die middelpunt van God se wil te bly.
Toe Noag besig was om die ark te bou, kon hy ‘n honderd jaar van bespotting weerstaan, maar toe die werk klaar was, het hy dronk geword en homself in die skande gesteek. Paulus skryf: ‘Al hierdie dinge… is neergeskryf om ons te waarsku… Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:11-12 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – wees op en wakker!
Sielskos: Jer 41-44; Matt 25:14-30; Ps 79; Spr 15:18-21