Wees ‘n lasdraer
2019-02-03Galasiërs 6:2 NLV
Almal wat jy ontmoet, steek iets weg. Nie omdat hulle jou wil mislei nie, maar omdat sommige wonde net te persoonlik is om oor te praat. Wanneer jy ‘n harde woord van jou man se kant af kry, kan die pyn te diep wees om dit te bespreek. Of wanneer jou man giftige woorde van jou hoor, kry hy seer maar kan dit nie wys nie. Dus gaan lek beide van julle julle wonde en probeer om aanmerkings en vrae van ander mense te vermy. Is dit waar jy vandag is? Sukkel jy met iets wat te moeilik is om oor te praat? As dit die geval is, onthou dat ander mense dieselfde doen! Dikwels is hulle woede ‘n simptoom van hulle seer en steek hulle afsydigheid net ‘n vrees vir verwerping weg. Jesus het die beste in mense gesien en uit sy pad gegaan om teenoor hulle genadig te wees en hulle laste te probeer verminder. Onthou jy hoe Hy die vrou wat owerspel gepleeg het, hanteer het? (sien Johannes 8:1-11). Hy het haar opgehef, omdat daar tussen onkruid ‘n potensiële roos kan wees! Herinner jouself dat ander mense deur dinge gaan wat hulle nie met jou bespreek nie. Hulle stort trane wat jy nie kan sien nie en voel geïsoleerd op maniere wat jy jou nie kan indink nie. Probeer dus om hulle las ligter te maak, nie om daar toe by te dra nie. Jy mag dalk die enigste geneser wees wat vandag hulle pad kruis. Wanneer jy hulle las ligter maak, sal God joune ook ligter maak. Die Bybel sê, ‘Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (Efesiërs 6:8 NLV). Vra God om jou vandag ‘n lasdraer te maak.
Sielskos: Eks 16:1-35; Joh 6:30-40