Wees met net die beste tevrede

2019-06-28
Psalm 33:2-3 NLV

Wanneer dit by jou Godgegewe talente kom, beteken om met ‘vaardigheid te speel’ dat jy dit goed doen en uitnemendheid nastreef. Een skrywer stel dit so: ‘Daar is ‘n merkwaardige verskil tussen 99 persent en 100 persent toewyding. Teen 100 persent sien jy al jou probleme tot die oplossing daarvan toe deur. Met 99 persent kan jy steeds ‘n manier vind om die pad van die minste weerstand te volg. Ons lewe in ‘n kultuur waar uitnemendheid die uitsondering op die reël is, maar God se Woord sê: ‘…Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag…’ (Romeine 12:2 DB). Jy moet gewillig wees om die prys te betaal, wat die volgende is: ‘Almal wat aan ‘n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ‘n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ‘n onverganklike’ (1 Korintiërs 9:25 AFR83). Mense sal jou karakter volgens die hoogte van jou ideale, die breedte van jou medelye, die diepte van jou oortuigings en die lengte van jou volharding beoordeel. Benader elke taak met die denke hoe jy dit beter kan doen.’ As jy goed met syfers is, blink dan as ouditeur uit. As jy ‘n vaardige kommunikeerder is, wees die beste onderwyser wat jy kan wees. As jy mense kan inspireer, wees die beste moontlike leier. ‘n Voormalige president van Yale Universiteit merk op dat Hamlet nooit deur ‘n komitee geskryf kon word, of Mona Lisa deur ‘n span geskilder kon word, of die Nuwe Testament deur ‘n konferensie geskryf kon word nie. Kreatiewe idees kom gewoonlik van individue af. Die wonderlike feit van die lewe is dat wanneer jy weier om met minder as die beste tevrede te wees, ontvang jy dit gewoonlik!

Sielskos: Jer 31-32; Matt 4:12-25; Ps 98; Spr 14:34-35