Wees hardnekkig
2021-07-191 Korintiƫrs 15:58 NLV
Een van die algemeenste temas in die Bybel is volharding. Die apostel Paulus skryf: ‘Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.’ Weer skryf hy: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (GalasiĆ«rs 6:9 NLV). Ook Jakobus voeg by: ‘Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang…’ (Jakobus 1:12 NLV).
Die verskil tussen wen en verloor is nie talent nie; dis hardnekkigheid. Om hardnekkig te wees beteken die volgende: 1) Om alles te gee wat jy het. Sommige mense glo verkeerdelik dat hardnekkigheid meer van hulle eis as wat hulle het om te gee. Gevolglik word hulle ontmoedig en hou hulle op om hulself te druk. Om hardnekkig te wees beteken egter dat jy 100 persent gee – nie meer nie en verseker nie minder nie.
2) Om met vasberadenheid te werk, eerder as om op jou lot te wag. Volhardende mense vertrou nie op geluk om sukses te behaal nie. Hulle besef dat wanneer dit moeilik gaan, dit nie die tyd is om op te hou probeer nie.
3) Om op te hou wanneer die werk klaar is, nie wanneer jy moeg is nie. Om sukses te behaal, moet jy dikwels verby dit wat jy dink jy kan doen, druk. Onthou, oorwinning word nie bepaal totdat die laaste stap van die wedren voltooi is nie.
Put dus krag uit God se genade uit, weier om tou op te gooi en volhard totdat jy die wenstreep oorgesteek het en die prys gewen het.
Sielskos: Hand 16-17; Luk 8:16-25; Ps 140; Spr 16:3