Wees daar in ‘n krisis (2)
2019-05-17Galasiërs 6:2 DB
Jou doel moet wees om mense te help om hulle krisis te hanteer en daardeur te groei. Dit beteken dat jy hulle vlak van vrees moet verlaag en hulle moet help om weer normaal te funksioneer deur: 1) Kontak met hulle te maak. Mense in ‘n krisis neig om te onttrek eerder as om vir hulp te vra. Jy sal dus dalk die eerste skuif moet maak en begrip en opregte belangstelling moet toon. Twee eenvoudige stappe kan ‘n groot verskil maak. Luister aandagtig na hulle bekommernisse en waarnemings en behou oogkontak. Hierdie twee dinge sal hulle laat voel dat hulle waardig is en dat jy verstaan. 2) Hulle te help om hulle angs te verminder. ‘n Kalmerende teenwoordigheid kan hulle stres verlaag. Moedig hulle aan om oor hulle bekommernisse te praat en bied hoop aan. Sê byvoorbeeld: ‘Daar is maniere om hierdie situasie te hanteer.’ Die kans is goed dat die persoon se uitkyk verwronge of oorpessimisties is, stel dus ander perspektiewe voor. Byvoorbeeld: ‘Mag ek ‘n ander manier om hierna te kyk voorstel?’ Gee ook hoop vir die toekoms: ‘Ek besef dat dit moeilik is, maar met God se hulp glo ek dat jy dit sal kan hanteer.’ Gee hulle dan ‘n Bybelse belofte om dit te staaf (sien Jeremia 33:3). 3) Deur op die ware kwessie te fokus. In ‘n krisis voel mense dikwels deur die verwarrende feite, potensiële probleme en noodsaaklike besluite oorweldig. Deur aan hulle bystand te bied oor watter kwessies eerste aangepak moet word en watter probleme eerste opgelos moet word, help jy om hulle nood te verlig. Om op die hede te konsentreer, eerder as om die verlede te bespreek of oor die toekoms te bekommer, kan hulle angs verminder en hulle bemagtig om die situasie beter te hanteer.
Sielskos: 1 Kon 3-5; Mark 7:24-37; Ps 93; Spr 11:30-31