Wees daar in ‘n krisis (1)
2019-05-16Romeine 12:8 DB
Jy sê: ‘Dis nie my verantwoordelikheid nie. Ek gaan nie betrokke raak nie!’ Sielkundiges noem dit ‘medelydende onttrekking,’ die geneigdheid om te vermy om iemand in moeilike omstandighede te help. Of jou motief nou ongerief, selfbeskerming of onverskilligheid is, dis verkeerd. Om ‘daar te wees’ is hoe jy jou liefde vir God en jou naaste demonstreer. Om te help beteken dat jy drie soorte krisisse kan herken: 1) Toevallige of omstandigheidskrisisse. Dit is dinge wat ons welstand skielik bedreig, ontwrigtende gebeurtenisse, onverwagte verliese, die ontdekking van ‘n ernstige siekte, die dood van ‘n geliefde, ‘n familie ineenstorting, die verlies van lewensbestaan en sekuriteit. Job het alles hiervan ervaar en gewonder hoekom God toelaat dat so baie slegte dinge met hom gebeur. 2) Ontwikkelingskrisisse. Hierdie gebeur deur die loop van ons alledaagse lewe. Dit is dinge soos om te trek, universiteit toe te gaan, by die getroude lewe aan te pas, ouerskap, aftrede, veroudering, afname in gesondheid en die verlies van vriende. Abraham en Sara het verskeie kere getrek. Hulle het ook jare van kinderloosheid en familiestres verduur, insluitend die uitdaging om Isak te moet offer. 3) Eksistensiële krisisse. Dit is wanneer ons ontstellende waarhede oor onsself in die gesig moet staar. Ons mag onsself dalk as ‘n mislukking sien, daarmee stoei dat ons geskei is, leer dat ons siekte ongeneeslik is, verwerping as gevolg van ons ras, klas, ouderdom, of geslag ervaar, of besef dat ons te oud word om ons lewensdoelwitte te bereik. Ware ‘helpers’ verstaan, raak betrokke en bemoedig. Hulle hou hulle oë oop en is vinnig om ‘mense te help wat in nood verkeer.’
Sielskos: 1 Kon 1-2; Mark 7:14-23; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29