Wees bewus van Satan se planne

2024-08-22
2 Korintiërs 2:11 NLV

Om in geestelike oorwinning te leef beteken dat jy Satan se planne moet verstaan. Wanneer jy sleg voel, wanneer jy alleen is, wanneer jy moeg is en wanneer jy verlies ervaar het, is wanneer jy veral weerloos daarteen is. Daar is nie iets soos ‘n regverdige spel met die duiwel nie. As jy hom ‘n duim gee, sal hy ‘n myl neem. As jy hom ‘n toegangspunt in jou lewe gee, sal hy dit teen jou gebruik. Let die twee geleenthede op waar Satan vir Jesus aangeval het.

Eerstens, by sy geboorte. Herodus het beveel dat alle Joodse seuntjies onder die ouderdom van twee doodgemaak moet word. Dis hoekom jy as nuwe gelowige daagliks gewoontes van gebed, Bybelstudie en gemeenskap met die wat jou op jou pad met God kan versterk, moet ontwikkel.

Tweedens, op die drumpel van sy bediening. Vir veertig dae het Jesus in die woestyn vir Satan teengestaan. Hoekom het die stryd so lank aangehou? Omdat dit oor Jesus se toekoms gegaan het. ‘Toe die duiwel Jesus klaar versoek het, het hy Hom verlaat tot die volgende geleentheid. Hierna het Jesus, gevul met die krag van die Heilige Gees, na Galilea teruggegaan. Hy het deur die hele omgewing bekend geword’ (Lukas 4:13-14 NLV).

‘n Aanval is ‘n teken van respek; dit beteken dat Satan jou potensiaal raakgesien het. Die vlak van sy aanval is ‘n teken van die vlak van seën wat God vir jou aan die ander kant in die vooruitsig het. In plaas daarvan om dus moedeloos oor die stryd te wees, sien dit as ‘n teken van God dat jou beste dae voor jou lê.

Sielskos: 2 Kro 12-15; Luk 15:11-32; Ps 119:97-104; Spr 21:24-27