Wees altyd oopkop (2)
2024-08-30Handelinge 17:11 NLV
Hier is ‘n verhaal van twee stede: 1) Tessalonika het die waarheid verwerp. ‘Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy na die sinagogediens gegaan en op drie Sabbatdae na mekaar uit die Skrifte met die Jode geredeneer… ‘Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,’ het hy gesê, ‘Hý is die Messias.’… Die Jode was egter jaloers hieroor. Hulle het toe met die hulp van ‘n paar nikswerd leeglêers ‘n betoging begin en die stad in oproer gebring…’ (verse 2-3, 5 NLV).
2) Berea het die waarheid ontvang. ‘…Daar aangekom, het hulle [Paulus en Silas] na die Jode se sinagoge gegaan. Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika, en hulle het met groot belangstelling na Paulus se boodskap geluister. Hulle het elke dag die Skrifte ondersoek om te sien of dit is soos Paulus en Silas sê. Baie van hulle het gevolglik gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, sowel vooraanstaande vroue as mans’ (verse 10-12 NLV).
Dis nie net ‘n verhaal van twee stede nie, maar van twee ingesteldhede. ‘n Toe ingesteldheid sê: ‘Ek glo dat ek alles wat daar oor hierdie onderwerp te wete is, weet.’ ‘n Oop ingesteldheid sê: ‘Ek is dankbaar vir wat ek weet, maar ek glo dat daar meer te wete is.’ ‘n Woord van waarskuwing egter! Net omdat ‘n spreker iets sê, beteken nie jy moet dit sonder twyfel aanvaar nie. ‘n Leier wat daarna streef om God te eer sal nie aanstoot neem as jy dit wat hulle sê, bevraagteken nie. Die mense in Berea het Paulus se woorde, die skrywer van die helfte van die Nuwe Testament, ondersoek! Die woord vir jou vandag is dus – wees altyd oopkop.
Sielskos: 2 Kro 35-36; 2 Joh; Luk 18:18-30; Ps 119:161-168