Wees altyd oopkop (1)
2024-08-29Spreuke 24:32 NLV
Koning Salomo word as een van die wysste mense wat nog ooit gelewe het, beskou. Hy het drie boeke in die Bybel geskryf en word gereeld aangehaal. Hy was ‘n lewenslange leerder en soeker na die waarheid. ‘Ek het nagedink oor wat ek gesien het. Ek het iets daaruit geleer.’ Let op die woorde: ‘Ek het daaroor nagegedink… Ek het iets daaruit geleer’. Dit behoort jou vaste gesindheid in die lewe te wees.
God se plan vir jou is om aan te hou leer, verander, groei en volwasse word totdat jy jou laaste asem uitblaas. Dit beteken dat jy altyd oopkop moet wees. Kyk na die Fariseërs. Hulle was 100 persent toegewyd aan hulle geloofstelsel. Hulle was ook die bes opgevoede mense in die samelewing. Tog het hulle Jesus en die waarheid wat Hy gedeel het om elke hoek en draai weerstaan. Hoekom? As gevolg van drie baie algemene redes: 1) Trots. ‘As wat Jesus sê reg is, beteken dit ons is verkeerd.’ 2) Sekuriteit. ‘As ons sy leerstellings aanvaar, wat gaan dan van ons reputasie en inkomste word? 3) Tradisie. ‘Ons glo en dink al vir generasies op hierdie manier.’
Kan jy sien hoe dit dalk op jou lewe van toepassing mag wees? Geestelike groei verg twee dinge: ‘n honger na die waarheid en die nederigheid om te erken dat jy nog baie het om te leer. Dit is twee kwaliteite wat God altyd sal eer: ‘Hy lei die nederiges op die regte weg, en vir dié wat beskeie is, leer Hy sy pad’ (Psalm 25:9 NLV). Wees dus altyd oopkop.
Sielskos: 2 Kro 32-34; Luk 18:1-17; Ps 119:145-160; Spr 22:14-16