Wat ‘sien’ jy? (2)

2022-12-28
Jesaja 43:19 NLV

Die lewe sal dit wat jy deurlopend voor jou hou, manifesteer. Paulus sê: ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV), en kreatiwiteit en visie is deel van die pakket. Jy sê: ‘Maar ek het probleme. Ek verdrink in die skuld. Ek is eensaam.’ Moenie dat daardie beeld wortel skiet nie. Skilder ‘n nuwe prentjie. Sien jouself waar jy sterker en gesonder is, hoër uitstyg en jou drome bewaarheid word. Laat die beeld van oorwinning ‘n houvas op jou kry.

Herinner jouself aan die volgende Skriftuurlike waarhede: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). ‘Dit is die dag wat die Here gemaak het…’ (Psalm 118:24 NLV). ‘Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus…’ (Romeine 8:37 NLV). ‘Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons één is met Christus, altyd saamneem in sy triomftog…’ (2 Korintiërs 2:14 NLV). ‘Want U seën die vromes, Here, u genade is vir hulle soos ‘n skild’ (Psalm 5:13 NLV). ‘U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe…’ (Psalm 23:6 NLV).

In Bybelse tye is wyn in leersakke gestoor, maar soos hulle verouder het, het die sakke hul buigsaamheid verloor. Nuwe wyn het altyd nuwe leersakke geverg. Net soos jy nie nuwe wyn in ou leersakke kan gooi nie (sien Matteus 9:17), kan God nie vir jou ‘n nuwe visie gee totdat jy die ou beelde en houdings wat jy in jou gedagtes ronddra, verander nie. God sê: ‘Ek gaan iets nuuts doen. Dit het alreeds begin gebeur! Sien julle dit nie?..’ Hy is gereed om vandag iets nuuts in jou lewe te doen. Is jy gereed om jou ou denkwyse te verander en plek daarvoor te maak?

Sielskos: Sag 6-9; Joh 20:10-18; Ps 117; Spr 31:18-21