Wat sê hulle van jou?

2023-09-09
Nehemia 6:6 NLV

Om Nehemia daarvan te weerhou om Jerusalem se mure te herbou, het sy vyande gerugte oor hom versprei. ‘…Gesem het my vertel dat die mense onder mekaar praat en sê dat jy en die Jode ‘n opstand beplan. Dit is hoekom jy die muur bou. Volgens die gerugte het jy planne om koning te word’ (vers 6 NLV).

Jy kan nie beheer wat mense dink, of hulle daarvan weerhou om dit te sê nie, maar jy kan jou reaksie daarop bepaal. Nehemia het: ‘Ek het toe vir hulle ‘n boodskap teruggestuur: ‘Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie.’ Hulle het die boodskap vier keer vir my gestuur en elke keer het ek vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur’ (vers 3-4 NLV). Hierdie verhaal leer jou drie belangrike beginsels:

1) Weier om meer aandag aan kritici te gee as wat jy aan ‘n vriend sou gee. Die mense wat die meeste vir Nehemia saakgemaak het, was diegene wat vir hom, eerder as teen hom, was. In plaas daarvan om dus hulle siening te probeer verander, het hy vorentoe beweeg.

2) Besef dat geleentheid hand aan hand met teenstand loop. Paulus het gesê: ‘want hier staan nou ‘n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat reageer. Daar is egter ook baie teenstanders’ (1 Korintiërs 16:9 NLV).

3) Onthou dat dit die groot gevegte is wat groot oorwinnings behaal. Satan sal jou nie gelukwens wanneer jy besluit om God se wil te doen nie; hy sal jou tree vir tree probeer beveg. Jy het egter ‘…reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV). God is vandag aan jou kant, dus is jou oorwinning verseker.

Sielskos: Eseg 20-21; Mark 11:27-33; Ps 78:1-8; Spr 20:7-10