Wat maak jou bly, hartseer of kwaad?

2023-11-22
Job 6:14 NLV

‘n Pastoor skryf: ‘Wat maak jou bly, hartseer of kwaad? Wat sit ‘n glimlag op jou gesig? Wat laat jou onbeheersd huil? Wat maak jou so kwaad dat jy jou vuis op die tafel wil slaan? Êrens in die mengsel van daardie blydskap, hartseer of woede is jou Godgegewe passie. Sodra jy dit identifiseer, is dit nie opsioneel om iets daaraan te doen nie. Jy kan nie nie iets daaraan doen nie.’

In 2006 was Blake Mycoskie besig om deur Argentinië te toer toe hy agterkom dat baie kinders nie skoene het nie. Hy kon na Amerika toe teruggekeer het en met sy eie lewe aangegaan het. In plaas daarvan het hy TOMS skoene begin, ‘n besigheid met die missie om skoene aan die voete van die kinders in derde-wêreld lande, te sit. Dit werk as volg: Wanneer jy ‘n paar TOMS skoene koop, gee jy ‘n paar skoene vir ‘n kaalvoet kind. Vir elke paar skoene wat gekoop word, word ‘n paar weggegee. Hulle missie is duidelik: een vir een. Blake het ‘n behoefte geïdentifiseer. Hy het dit verpersoonlik. Toe het hy besluit om iets daaraan te doen. Dit het nie groot begin nie, maar klein.

Dis hoe sulke passies egter begin. ‘n Persoon besluit om iets te doen aan iets wat hom bly, hartseer of kwaad maak. Dit was kaalvoet kinders wat Blake se hart gebreek het. Hy het letterlik skoene vir sy geloof aangetrek. Wanneer jy die ding wat jou bly, hartseer of kwaad maak ontdek, is die enigste vraag wat oorbly: Wat gaan jy daaraan doen?

Sielskos: 2 Kron 1-5; Joh 11:1-16; Ps 102:1-11; Spr 27:7-9