Wat jy saai, sal jy maai
2021-10-19Lukas 6:38 NLV
In die laat negentiende eeu het ‘n parlementslid na Skotland vertrek om ‘n belangrike toespraak daar te lewer. Hy het met die trein na Edinburgh gereis en van daar af ‘n perdekar suidwaarts na sy bestemming toe geneem. Die paaie was egter sleg en die perdekar het in die modder vasgeval. ‘n Skotse plaasseun het tot sy redding gekom en hom gehelp om die perdekar weer op die pad te kry. Die parlementslid het die seun gevra hoeveel hy hom vir sy moeite skuld. ‘Niks,’ het die seun geantwoord. ‘Is jy seker?’ het die politikus gevra, maar die seun het betaling geweier. ‘Wel, is daar enigiets wat ek vir jou kan doen? Wat wil jy word wanneer jy groot is?’ Die seun het geantwoord: ‘Ek wil ‘n dokter word.’ Die parlementslid het aangebied om die jong Skotse seun te help om universiteit toe te gaan en wonder bo wonder sy belofte gestand gedoen.
Meer as ‘n halfeeu later was Winston Churchill dodelik siek aan longontsteking terwyl hy ‘n konferensie in Morokko bygewoon het. ‘n Nuwe ‘wondermiddel’ is aan hom toegedien, ‘n middel genaamd penisillien wat deur sir Alexander Fleming ontdek is. Jy het reg geraai: Fleming was die jong Skotse seun wat die parlementslid te hulp gesnel het. Die parlementslid was niemand anders as Randolph Churchill, Winston Churchill se pa, nie.
Ja, wat jy saai, sal jy maai. Wanneer God dus vir jou sê om ‘n saad van barmhartigheid in iemand anders se lewe te saai, is dit omdat Hy ‘n oes van seën, wat vir jou iewers langs die pad wag, het.
Sielskos: Nahum 1-3; Joh 4:39-54; Ps 41; Spr 24:5-6