Wat jy nie by die skool leer nie
2023-09-25Spreuke 31:28 NLV
Waar leer kinders om hul ma’s te respekteer? Wie bepaal die patroon van hulle jong verstand, wat Ma as ‘n geliefde en gerespekteerde lid van die gesin posisioneer – in plaas daarvan om bloot as ‘hoofkok en skottelgoedwasser’ beskou te word? By die skool leer kinders die vaardighede wat nodig is om suksesvol by die werk te wees. maar by die huis leer hulle die vaardighede wat nodig is om ‘n gesin te bou.
Die beste rasieleier vir Ma – is Pa. Pa, jy het geweldige invloed oor wat jou kinders van hul ma en vroue in die algemeen dink. Wanneer jou kinders met stryende ouers grootword, dink hulle: ‘As Pa met Ma kan stry, dan kan ek ook.’ Jou houding en dade word die houding en dade van jou kinders. In ‘n wêreld wat dikwels die bydrae van vrouens, veral tuisteskeppers, afmaak, is dit jou plig as man en vader om op ‘n dosyn verskillende maniere te sê: ‘Jou ma is ‘n wonderlike vrou! Sy werk hard en sy verdien geweldige krediet vir wat sy ons almal gee. Wat my betref, is sy nommer een!’
Spreuke 31 sê: ‘Haar kinders is trots op haar…’ Waar het hulle dit geleer? Op die televisie? By hulle maats? By die skool? Nee, hulle het dit by die huis geleer. Die manier hoe jy jou vrou hanteer, is heel waarskynlik die manier hoe jou seun sy vrou sal hanteer. Jou kinders mag dalk nie jou raad volg nie, maar hulle sal dikwels jou voorbeeld volg. ‘Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort’ (Spreuke 31:31 NLV).
Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16