Wat is jou waardes? (2)

2023-06-24
Prediker 2:11 NLV

Hier is nog twee Skriftuurlike waardes waarvolgens jy moet lewe:

1) Gelykheid. ‘God het immers geen witbroodjies nie’ (Romeine 2:11 NLV). In God se oë is geen mens belangriker as ‘n ander een nie. Sommige mense het meer toegang tot die dinge wat die wêreld bied, is meer geleerd of is tot meer verantwoordelikheid geroep. In God se oë is niemand egter van nature beter as iemand anders nie. Die grondvlak is aan die voet van die kruis en ons almal benader God as sondaars wat verlossing nodig het. Dit maak dus nie saak wat jou posisie in die lewe is nie, God verwag van jou om almal met dieselfde respek te hanteer.

2) Vrygewigheid. Jesus het gesê: ‘As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle toe terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang’ (Lukas 6:38 NLV). Ander mense bepaal nie wat jy ontvang nie. God bepaal dit nie eers nie. Jy doen! Jy is nooit meer soos God as wanneer jy gee nie en jy kan Hom nooit oortref as dit by gee kom nie. Die waarheid is dat jy geen rede het om angstig te wees dat jy nie genoeg gaan hê, as jy vrygewig teenoor ander mense is nie.

Hoekom is dit belangrik om waardes te hê waarvolgens jy lewe? Salomo het gesê: ‘Ek het daarna nagedink oor alles wat ek bereik het, oor al die moeite wat ek gedoen het. En ek het besef hoe sinloos dit alles is. Dis niks anders as ‘n gejaag na wind nie. Daar is geen voordeel onder die son nie.’

Sielskos: Hosea 6-10; Matt 21:18-32; Ps 8; Spr 14:9-12