Wat is jou waardes? (1)

2023-06-23
Spreuke 11:3 NLV

Hier is ‘n paar waardes wat op die Skrif gebaseer is:

1) God se soewereiniteit. ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was’ (Psalm 139:16 NLV). Jy kan rus in die wete dat God die laaste woord oor alles wat jou aangaan, het (sien Psalm 138:8). Wanneer jy dit weet, sal jy nie probeer om mense en omstandighede tot jou voordeel te manipuleer nie. Jy hoef eenvoudig net deur die deure wat God oopmaak te stap en vrede te hê oor die deure wat Hy toemaak, met die wete dat Hy jou beste belange op die hart dra.

2) Integriteit. ‘Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers…’ Wanneer jy met integriteit lewe, sal jy God se vrede ervaar, omdat jy weet dat jy die regte ding in sy oë gedoen het. Integriteit gaan nie net daaroor om eerlik te wees of die waarheid te vertel nie, maar ook om seker te maak dat dit wat jy sê, die waarheid is. Met ander woorde, maak jou woord jou eer. Die Bybel sê dat een van die eienskappe van iemand wat in God se teenwoordigheid bly en sy wil doen, mense is wat ‘…hulle beloftes gestand doen selfs tot sy nadeel’ (Psalm 15:4 NLV).

3) Nederigheid. ‘…Nederigheid kom eerste, daarna volg eer’ (Spreuke 15:33 NLV). Nederigheid is nie ‘n sin van waardeloosheid nie, maar eerder ‘n aanvaarding van jou Godgegewe sterkpunte en die beperkings wat God toelaat. Jou sterkpunte moet jou nie arrogant maak nie en jou beperkings moet jou nie vreesbevange maak nie, want God het beloof: ‘…My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV).

Sielskos: Hosea 1-5; Matt 21:1-17; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8