Wat het jy vir God beloof?

2024-08-25
Job 22:27 NLV

Wanneer God ‘n belofte aan ons maak, het ons alle reg om te verwag dat Hy sy belofte sal hou. Wanneer ons ‘n belofte aan God maak, het Hy ook alle reg om van ons te verwag om ons beloftes na te kom. ‘Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou hoor. Jy sal doen wat jy Hom belowe het. Wat jy besluit om te doen, sal gebeur. Dit sal lig wees op die pad voor jou’ (verse 27-28 NLV). Hierdie Skrifgedeelte kan jou deurgang tot seën en die sleutel tot die deurbraak waarvoor jy gebid het, wees.

Gaan terug en kyk weer na die beloftes wat jy aan God gemaak het. Hy wil hê dat jy selfvertroue voor Hom moet hê. ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:21-22 NLV). Geen verskonings meer nie. Aanvaar verantwoordelikheid vir wie jy is en wat jy kan word.

Waag dit om die volgende te bid: ‘Verontrus my Here, wanneer my drome waar word, omdat ek te klein gedroom het. Verontrus my as ek veilig met my boot arriveer, omdat ek te na aan die kus gevaar het. Verontrus my wanneer die dinge wat ek gekry het, veroorsaak dat ek my dors na U verloor. Verontrus my wanneer ek sukses behaal, net om my begeerte na uitnemendheid te verloor. Verontrus my wanneer ek te gou tou opgooi en te ver te kort kom aan die doelwitte wat U vir my lewe gestel het’ (Skrywer Onbekend).

Om vorentoe te beweeg, sal jy dalk moet teruggaan om dinge tussen jou en die Here reg te maak. As dit die geval is, doen dit!

Sielskos: Joh 10:1-18; Op 7:13-17; Ps 23; Luk 15:1-7