Ware nederigheid
2019-06-141 Petrus 5:5 NLV
Daar word twee tipes nederigheid in die Skrif genoem: 1) Valse nederigheid. Paulus skryf: ‘Laat niemand wat aandring op selfvernedering… oor julle skeidsregter speel en julle op sleeptou neem nie…’ (Kolossense 2:18 NLV). Of dit nou jou kleredrag, jou spraak of jou gedrag is – enigiets wat die aandag van Christus af wegneem en op jou vestig, is onaanvaarbaar vir God. 2) Ware nederigheid. Mense wat waarlik nederig is, neem nie maklik aanstoot of veg terug nie; hulle draai die ander wang. Tog is hulle nederigheid nie lafhartigheid nie, omdat ware nederigheid moed verg. Dit maak jou gewillig om ‘n laer posisie as wat jy verdien in te neem, om stil te bly oor jou meriete en om vernedering, belediging en valse aantygings ter wille van ‘n hoër doel te verduur. Ware nederigheid laat jou nie minder van jouself dink nie, dit laat jou net minder aan jouself dink. Petrus het hierdie onderwerp met die volgende woorde aangespreek: ‘…God is téén dié wat te veel van hulleself dink, maar dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, aan hulle gee Hy sy onverdiende goedheid. Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak’ (1 Petrus 5:5-6 NLV). Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat homself vir ‘n kompetisie ingeskryf het om te bepaal wie die nederigste is. Toe hy wen, het hy ‘n sertifikaat van verdienste ontvang – maar toe hy dit omhoog hou, is hy gediskwalifiseer! Op ‘n ernstige noot: Trots diskwalifiseer jou daarvan om die guns van God te geniet. Dis hoekom jy jouself gereeld moet herinner: ‘Alles wat ek is, het ek aan God te danke; alles wat ek het, kom van God af. Aan Hom kom al die eer toe.’
Sielskos: Hosea 1-5; Mark 14:27-42; Ps 139:1-6; Spr 13:21-23