Wanneer jy sterf! (5)

2022-05-31
Hebreërs 2:15 NLV

Die Bybel sê: ‘Omdat hierdie ‘kinders’ mense van vlees en bloed is, het Jesus ook ten volle mens net soos hulle geword. Want Hy kon net sterf as Hy ten volle mens was en Hy kon net deur self te sterf klaarspeel met hom wat mag oor die dood gehad het – die duiwel. Net op hierdie manier kon Hy ons almal vrymaak wat ons lewe lank uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang gesit het’ (verse 14-15 NLV).

Die teoloog, Adolf von Harnack, het gesê: “Christus se graf was die geboorteplek van ‘n onvernietigbare oortuiging dat die dood oorwin is en dat daar ‘n ewige lewe is. Die sekerheid van die opstanding en van ‘n ewige lewe wat met die graf in Josef se tuin verband hou, het nie vergaan nie; en op die oortuiging dat Jesus leef, baseer ons steeds daardie hoop op burgerskap in ‘n Ewige Stad, wat ons aardse lewe die moeite werd en draaglik maak. Jesus het hulle verlos, wat hulle ‘lewe lank uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang gesit het.'” Goeie nuus: Jy hoef nie uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang te wees nie!

Dr Simon Greenleaf, professor in Regte aan Harvard en een van die wêreld se voorste kenners oor regsbewyse, het die soeklig van sy enorme kennis op die bewyse van die opstanding van Jesus Christus geskyn en elke draad van daardie bewyse aan die mees ingrypende kritiek blootgestel. Toe hy klaar was, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die bewyse van die opstanding so geweldig was dat dit in enige onbevooroordeelde hofsaal op aarde as ‘n historiese feit verklaar sou word. Wat beteken dit alles dus vir ons as gelowiges? Eenvoudig die volgende: Christus se opstanding waarborg ons s’n!

Sielskos: 1 Kon 8-9; Matt 13:24-35; Ps 108; Spr 12:14