Wanneer jy sterf! (3)

2022-05-29
Filippense 1:23 DB

William Jennings Bryan skryf in sy boek, Analogies of Nature, die volgende: ‘Christus het vir ons die bewys van onsterflikheid gegee en tog is dit nie regtig nodig dat iemand uit die dood moet opstaan om ons te oortuig dat die graf nie die einde is nie. As die Vader dit goeddink om met Goddelikke krag die akker aan te raak en dit in nuwe lewe te laat uitbars, sal Hy dan die siel van die mens, wat in die beeld van sy Skepper gemaak is, agterweë laat? As Hy afbuk om die roosknop die soete versekering van nog ‘n lente te gee, sal Hy dan weier om woorde van hoop aan die mens te gee wanneer die ysigheid van winter oor ons kom? As materie, wat deur die natuurkragte in ‘n verskeidenheid vorms verander word, nooit kan sterf nie, sal die gees van die mens dan vernietig word na ‘n kort besoek aan hierdie aarde? Nee, ek is so seker dat daar ‘n ander lewe is as wat ek seker is dat ek vandag leef!’

Paulus sê vir ons: ‘Om te lewe beteken vir my om vir Christus te lewe. Ek kan nog soveel goeie dinge vir Hom doen. Maar om te sterf sal aan die ander kant ook nie vir my sleg wees nie. Ek moet regtig erken, as ek tussen lewe en dood moet kies, weet ek nie watter een ek sou kies nie… Aan die een kant wil ek graag by Christus wees. Wat kan nou beter en lekkerder wees as dit? (verse 21-23 DB).

Dit maak dus nie saak hoe moeilik of geseënd jou lewe hier en nou is nie, jou beste dae lê nog voor; dae sonder einde waar jy die vreugdes van die hemel kan ervaar. Maak seker dat jy gereed is wanneer jou tyd aanbreek!

Sielskos: Gen 1:1-2:3; Joh 1:1-18