Wanneer jy ‘n geliefde verloor
2023-08-151 Tessalonisense 4:13 ABA
Onthou jy die eerste keer wat die dood jou geforseer het om finaal van ‘n geliefde afskeid te neem? By die begrafnis het jy woorde soos vertrek, aanbeweeg, vooruitgegaan, gehoor. ‘Vertrek waarheen? Aanbeweeg waarnatoe? Vooruitgegaan vir hoe lank?’ Wanneer iemand na ‘n vol lewe sterf, kan mens dit aanvaar. Maar wat as hulle as gevolg van geweld sterf? Of na ‘n lang siekbed? Jou drome word saam met die kis wat hulle in die grond laat sak, begrawe.
Paulus skryf: ‘Vriende, ons wil graag hê dat julle moet weet wat sal gebeur met die gelowiges wat gesterf het. As julle dit weet, dan sal julle nie huil en treur soos die heidene wat niks het wat hulle kan hoop nie. Ons glo dat Jesus gesterf het en weer begin lewe het. Ons moet ook glo dat God die gelowiges wat gesterf het, na Jesus toe sal bring’ (verse 13-14 ABA).
Hierdie woorde verander ons hopelose verdriet in hoopvolle verdriet. Hoe? Deur ons te verseker dat ons weer ons geliefdes gaan sien. Is dit nie wat ons graag wil glo nie? Ons verlang daarna om te weet dat ons geliefdes veilig in die dood is. Ons smag na die versekering dat die siel oombliklik gaan om by God te wees. Waag ons dit egter om dit te glo? Volgens die Skrif, ja! By hulle afsterwe gaan ‘n Christen onmiddellik in die teenwoordigheid van God in en verlustig hulle in die bewuste gemeenskap met die Vader en met ander wat hulle vooraf gegaan het. Hierdie woorde op ‘n gelowige se grafsteen sê dit alles: ‘Die afskeid is vir ‘n oomblik, maar die ontmoeting sal vir ewig wees.’
Sielskos: 1 Pet 1-2; Mark 5:21-30; Ps 119:57-64; Spr 17:22