Wanneer jy aangeval word (6)

2023-07-06
2 Timoteus 4:7 NLV

Hier is nog drie dinge om in gedagte te hou wanneer jy aangeval word:

1) Jy is nie uniek nie. In ‘n brief aan gelowiges wat vervolg is, het die apostel Petrus gesê: ‘…[bly] standvastig in julle geloof… Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding’ (1 Petrus 5:9 NLV). Die Duiwel wil jou graag oortuig dat jy die enigste persoon is wat al ooit so iets ervaar het. Hy wil hê jy moet soos ‘n mislukking voel en jouself van die krag en ondersteuning wat jy in gemeenskap met ander gelowiges kry, afsny. Wees wys; moenie hom toelaat om dit aan jou te doen nie.

2) Verwyder enige struikelblokke. Die apostel Johannes skryf: ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan’ (1 Johannes 3:21 NLV). Ons almal sondig – die fout wat ons maak is wanneer ons dit probeer wegsteek, want: ‘Wie sy oortredings verswyg, sal nie voorspoedig wees nie’ (Spreuke 28:13 NLV). As jy gedurig sukkel en verslaan word, vra God om jou te wys waar die moeilikheid is, put krag uit sy genade en hanteer dit.

3) Moenie tou opgooi nie. Enigiemand kan ‘n marathon begin hardloop, maar dit verg ‘n kampioen om een klaar te maak. Die apostel Paulus skryf: ‘Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly’ (2 Timoteus 4:7 NLV). Elkeen van ons ervaar teëspoed. Dis egter diegene van ons wat tot die einde toe sterk staan, wat die beloning ontvang. Bestudeer die lewens van mense soos Dawid, Ester, Debora en Paulus. Herinner jouself dat hulle God jou God is en dat Hy beloof het om jou in oorwinning hier deur te bring.

Sielskos: Jer 28-30; Matt 24:15-25; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7