Vriende met God (1)

2019-04-11
Eksodus 33:11 NLV

Wanneer jy met ‘n vriend gesels, is jy onbewaak en ontspanne. Jy kan sê wat jy dink sonder om bang te wees dat jy geoordeel gaan word. Dis hoe Moses en God met mekaar gepraat het – soos twee vriende wat deursigtig met mekaar is en mekaar vertrou. Hulle het gesê wat hulle voel en dink. Die Israeliete het pas ‘n goue kalf gemaak om te aanbid en God was kwaad genoeg om hulle te onterf en nuwe vriende te kies. Moses het ‘n groot krisis op hande gehad en het ‘n ernstige gesprek met God aangeknoop. Hy het in wese vir God gesê: ‘U sien dit op een manier en ek op ‘n ander manier. U perspektief maak my ongemaklik.’ Dit klink soos ‘n openhartige gesprek tussen vriende. Hy was nie besig om oneerbiedig te wees nie, hy het net sy hart oopgemaak. God en Moses het mekaar goed genoeg geken om te praat ‘…soos vriende wat gesels en mekaar in die oë kyk…’ Bid jy so? Sonder aanstel; net ‘n gesprek uit die hart met ‘n vriend wat jy vertrou en na aan voel? Dis wat God met Moses wou gehad het – en wat Hy ook met jou wil hê! Godsdienstige clichés en die gewone lysie van gebede kan jou geleentheid om diep en persoonlik met God te konnekteer, ondermyn. Maak eerder teenoor Hom oop. Praat eerlik met Hom oor waar jy vandaan kom en wat jy voel, dink en begeer. Dis hoe om ‘n vriend met God te wees!

Sielskos: Dan 1-2; Luk 22:24-38; Ps 127; Spr 10:11