Jy kan vrede in jou gemoed hê

2023-02-13
Psalm 29:11 NLV

Almal wil vrede in hulle gemoed hê. Of jy nou ‘n sakeman is wat die druk van spertye ervaar, ‘n tuisteskepper wat die kinders in toom moet hou, of ‘n student wat graag deur die semester wil kom, almal wil gemoedsrus hê. Die meeste van ons ervaar egter meer stres as vrede. Hoe vertroud is jy met stres?

Een skrywer merk op: ‘Hier is ‘n klein vraelys. Voltooi elkeen van hierdie sinne met die toepaslike woord: ‘Ek is reg om die … in te gooi. Ek is … op. Ek is net ‘n bondel … My lewe is besig om … te val. Ek weet nie meer watter … toe nie.’ Hoe het jy gevaar? As jy ‘handdoek, raad, senuwees, uitmekaar en kant’ geantwoord het, gee vir jouself ‘n A+.’

Die meeste van ons het hierdie woorde al so gereeld gemompel dat dit amper tweede natuur is. Stres is ‘n betreurenswaardige feit van die lewe in ons hedendaagse wêreld. Verkope van kalmeermiddels is op ‘n hoogtepunt en boeke oor gemoedsrus word onmiddellik topverkopers. Ons word gewaarsku dat te veel stres ongesond is. Ons weet dit egter al vir eeue. Duisende jare gelede het Salomo geskryf: ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid…’ (Spreuke 14:30 NLV).

Ons weet van stres, maar waar gaan jy om vrede in jou gemoed te kry? Na God toe! Neem ‘n oomblik om hierdie twee beloftes te lees: 1) ‘Die Here gee krag aan sy volk. Die Here seën sy volk met vrede.’ 2) ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef…’ (Filippense 4:6-7 NLV).

Sielskos: Gen 44-46; Luk 9:37-45; Ps 145:1-13; Spr 4:20-22