Vra: ‘Is daar ‘n beter manier?’

2019-06-23
Deuteronomium 28:8 NLV

Amper enigiemand kan die probleem identifiseer, die probleem bespreek en oor die probleem kla. ‘n Persoon wat egter oplossing-georiënteerd is, soek maniere om die probleem op te los. Murray Spangler was so ‘n persoon. Hy was ‘n skoonmaker in ‘n kettingwinkel en was verveeld met sy werk wat uit vloere vee bestaan het. Om die verveling te bekamp, het hy besluit om aan ‘n meer innoverende manier te dink om sy werk te doen. Daarmee saam was die feit dat hy allergies was vir die stof wat hy elke dag moes opvee, sommer ‘n ekstra aansporing. Toe het ‘n gedagte by hom opgekom: ‘In plaas daarvan om die stof op te vee, is daar dalk ‘n manier om dit op te suig.’ Waar kom sulke kreatiewe idees vandaan? Van God, ons Skepper af. Omdat jy sy kind is, sal Hy sy idees met jou deel. Spangler se vrae het daartoe gelei dat hy ‘n rowwe, maar werkende stofsuier ontwerp het. Hy het toe ‘n ou vriend in die leerbedryf genader om sy nuwe uitvinding te finansier. Hierdie man se naam was H.W. Hoover; en Hoover stofsuiers het wêreldwyd bekend geword. In elke struikelblok is ‘n geleentheid ingebou; in elke vraag, ‘n antwoord; in elke probleem, ‘n oplossing. Moet dus nie bang wees om metodes, sisteme en toerusting te bevraagteken deur te vra: ‘Is daar ‘n beter manier?’ nie. Die wêreld is deur mense wat gewaag het om dit te vra, verryk. Jy kan ook so ‘n persoon wees, want God het beloof om jou in alles wat jy doen, te seën.

Sielskos: Eks 20:17; Ps 10; Jak 4:1-3