Vra en luister
2021-07-20Openbaring 12:10 NLV
Was jy al ooit skuldig daaraan dat jy iemand van iets aangekla het voordat jy al die feite geweet het? Indien dit die geval is, trek jy aan dieselfde tou as Satan, die offisiële ‘aanklaer’ van God se kinders. Die Bybel sê: ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het (vers 10 NLV). Emosionele en geestelike volwassenheid vereis dat jy eers probeer verstaan, voor jy ‘n haastige beskuldiging maak.
Kyk na die voorbeeld wat God ons in die tuin van Eden gegee het. Hy kon maklik gesê het: ‘Adam en Eva, julle ondankbare sondaars, Ek moes julle nooit in my tuin vertrou het nie!’ God se nie-beskuldigende manier om Adam en Eva met hulle sonde te konfronteer, voorsien diegene van ons wat geneig is om te praat voor ons al die relevante informasie het, van ‘n kragtige model.
Die Bybel sê: ‘Die Here God het die mens geroep: ‘Waar is jy?’ Hy antwoord: ‘Ek het U hoor aankom en kruip nou weg. Ek was bang omdat ek sonder klere is.’ ‘Wie het vir jou gesê dat jy sonder klere is?’ vra die Here God. ‘Het jy van die vrugte geëet wat Ek jou beveel het om nie te eet nie?’ (Genesis 3:9-11 NLV).
God het reeds die antwoorde op sy vrae geken. Nietemin, het Hy vir Adam die geleentheid gegee om sy kant van die storie te verduidelik. Hierdie goddelike beginsel staan steeds: Om ‘n vraag ter verduideliking te vra en versigtig na die antwoord te luister, is belangrike stappe om jou neiging tot kritiek of beskuldiging te oorkom. Is jy al ooit onregverdig van iets beskuldig? As jy is, moet jy dit nie aan ander mense doen nie. Vra, en luister!
Sielskos: Hand 18-19; Luk 8:26-39; Ps 146; Spr 16:4-5