Vorm jou kind se wil
2021-09-09Hebreërs 12:11 DB
Baie van die frustrerende dinge wat ons kinders doen, kan geïgnoreer of geminimaliseer word, omdat hulle net besig is om kinders te wees. Daar is egter ‘n uitdagende houding wat, indien dit geïgnoreer word, tot ‘n leeftyd van moeilikheid en tragedie vir jou kind kan lei. Om sy of haar wil te vorm, sal nie maklik of vinnig gebeur nie. Deur nou slegs te doen wat die maklikste is, mag tot ‘n leeftyd van ellende vir jou kind lei.
Chuck Swindoll vertel van ‘n uitdagende kind wat tandheelkundige behandeling nodig gehad het. Toe hy gevra is om in die tandartsstoel te sit, het die seun gesê: ‘As jy my dwing om in daardie stoel te sit, sal ek al my klere uittrek en jou en jou assistent skaam laat kry.’ ‘Dis jou besluit,’ het die tandarts gesê, ‘gaan gerus voort! Die seuntjie het in sy onderbroek op die stoel geklim. ‘Nee, nee,’ het die tandarts gesê, ‘as jy daarop aandring om jou klere uit te trek, dan moet jy ál jou klere uittrek.’ Na sy behandeling het die seun, wat op daardie stadium baie meer beteuterd as uitdagend gelyk het, sy klere teruggevra. ‘O nee, ons sal dit eers mooi moet was,’ het die tandarts geantwoord. ‘Ek sal dit môre vir jou ma terugstuur.’
Die ma het die tandarts se bedoeling vinnig gesnap en haar seun, wat rooi van skaamte was, deur die spreekkamer, uit by die deur en oor die straat na haar kar toe gelei. Die volgende dag het die ma die tandarts gebel en hom vir sy wysheid en moed bedank: ‘Vir die eerste keer in jare, het ons vier-en-twintig uur sonder enige woedende, uitdagende buie gehad!’ Die Bybel sê: ‘Dit is nie lekker om gestraf te word nie, want dit maak seer, maar later pluk ons die vrugte.’
Sielskos: Eseg 34-36; Luk 20:27-40; Ps 78:1-8; Spr 20:7-10