Voel goed oor jouself

2022-05-24
2 Korintiërs 4:7 NLV

Wanneer jy nie goed voel oor jouself nie, lewe jy met ‘n gevoel van onsekerheid. Jy strewe dan na ander mense se goedkeuring en wanneer jy dit nie kry nie, krimp jou selfwaarde. Gevolglik kom jy nie naby daaraan om jou Godgegewe potensiaal uit te leef nie. Jy is die enigste persoon van wie jy nie kan wegkom nie en totdat jy leer om jouself te aanvaar omdat God lief is vir jou en jou aanvaar net soos jy is, sal jy altyd met onsekerheid sukkel.

Goed of sleg, ons projekteer die gedagtes en gevoelens wat ons oor onsself het, op ander. As jy dus wil hê dat mense goed dink van jou, moet jy ‘n goeie opinie van jouself hê – wat op God se Woord gebaseer is. Die Bybel waarsku ons dat ons nie te veel van onsself moet dink nie – maar moenie tot die ander uiterste gaan nie. Deur in aanhoudende selfverwerping te lewe, is jy ‘n oop uitnodiging aan Satan, wat die Bybel sê soos ‘n brullende leeu is wat rondloop en soek na iemand om te verslind (sien 1 Petrus 5:8).

Jy sê: ‘Maar het Paulus nie geskryf: ‘…Nêrens in my liggaam skuil daar ‘n enkele stukkie goed nie…’ (Romeine 7:18 DB)?’ Ja, maar dit beteken dat jou goeie kwaliteite die bewys is dat God in jou lewe aan die werk is. Die Bybel sê: ‘Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie’ (2 Korintiërs 4:7 NLV). In plaas daarvan om vandag op jou foute te fokus en sleg te voel, word bewus van die ‘skat’ van God se teenwoordigheid, krag en potensiaal wat binne-in jou lewe.

Sielskos: Heb 5-8; Matt 12:1-14; Ps 93; Spr 11:30-31