Visvanglesse (4)

2021-07-13
Lukas 5:4 NLV

Les vier: God se plan vir jou lewe behels altyd risiko’s. Hoekom? Omdat Hy wil hê dat jy jou lewe deur geloof moet lei. Hoekom dink jy het Jesus vir Petrus gesê: ‘Vaar nou dieper in’? Omdat dit is waar die groot visse is. Die meeste mense bestee hul lewens in die vlak waters van die lewe. Daar is min diepte aan hulle lewens; hulle is tevrede daarmee om nooit in die dieper waters in te gaan nie. Hoekom? Omdat dit veiliger in die vlak water is. Hulle dink: ‘As ek in die diep water gaan, mag daar dalk golwe wees. Dit mag dalk my boot wieg en my boot mag dalk omslaan. Ek sal dus maar net hier bly waar dit gemaklik is en hier rondplas.’

Ons maak skaars ons voete nat, omdat ons bang is dat ons nie kop bo water sal kan hou nie. Ons dink: ‘As ek regtig ernstig oor my toewyding aan God raak, mag Hy my dalk ‘n fanatikus maak. My familie kan dalk regtig ontsteld raak. Wat sal my vriende dink? Wat as God my vra om iets te doen waartoe ek nie in staat is nie?’ Dus is ons geneë daarmee om in die vlak water te bly – en ons loop so baie mis.

Verstaan die volgende: God se plan vir jou lewe is ‘n goeie plan, een wat tot jou voordeel sal werk (sien Jeremia 29:11-14). Hy sê: ‘Laat My toe om in jou boot te klim. Laat my teenwoordigheid saam met jou gaan – in jou besigheid, jou loopbaan, jou familie, jou huwelik, in elke area. Laat My toe om jou te lei. Werk saam met my plan en Ek sal jou meer as in jou wildste drome seën.’ Neem Hom vandag op sy woord en vaar in geloof uit.

Sielskos: Hand 6-7; Luk 7:1-10; Ps 118:1-9; Spr 15:27-30