Visvanglesse (3)

2021-07-12
Lukas 5:5 NLV

Les drie: Werk saam met God se plan vir jou lewe. ‘Toe Hy klaar gepraat het, het Hy vir Simon gesê: ‘Vaar nou dieper in en gooi jou nette uit, en jy sal baie vis vang.’ ‘Meneer,’ het Simon geantwoord, ‘ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie. Maar as u so sê, sal ons weer probeer.’ En hierdie keer was hulle nette so vol dat dit begin skeur het!’ (verse 4-6 NLV).

Jesus het die dissipels geleer waar om vis te vang, wanneer om vis te vang en hoe om vis te vang. Hy sal jou ook leer om sukses in die lewe te behaal. Soos Petrus, sal jou plan egter soms moet misluk voordat jy gewillig word om God se plan te aanvaar.

Let twee dinge op: 1) Petrus het nie met Jesus gestry nie, hy het Hom eenvoudig gehoorsaam. As professionele visserman mag hy dalk gedink het: ‘Here, wie is U om my te vertel hoe om vis te vang?’ Hy mag dalk selfs gedink het dat as hy niks in die nag wanneer die visse gewoonlik byt gevang het nie, sou hy sekerlik nie iets in die middel van die dag gevang het met die son wat op die water bak nie. Hy het egter nie gestry nie; hy het net gehoorsaam. Jy moet dit ook doen.

2) Hy het nie na sy gevoelens geluister nie. Hy was seker doodmoeg nadat hy die hele nag gewerk het. Hy het egter nie gevra: ‘Wat is die punt? Hoekom moet ek aanhou probeer?’ nie. In plaas daarvan om deur sy gevoelens gelei te word, het hy geloof in Christus se belofte uitgeoefen – en die resultate was wonderbaarlik. As jy vandag jou geloof in Jesus plaas, sal Hy dieselfde vir jou doen.

Sielskos: Hand 3:11-5:42; Luk 6:37-49; Ps 109:16-31; Spr 15:23-26