Verwelkom die toets (2)
2018-05-17Genesis 22:9 NLV
Abraham het Isak as ‘n spesiale geskenk van God gesien. God-gegewe geskenke is egter wonderlike – en gevaarlike – dinge. Hoekom sê ons so? Soos jy die gawes wat God jou gegee het begin ontwikkel, begin jy meer op hulle staatmaak as wat jy op God staatmaak. Dit is op daardie punt wat jou grootste sterkpunt jou grootste swakheid word. Dit is God wat vir Lucifer ‘n beeldskone vorm en ‘n pragtige stem gegee het. Daardie gawes is oorspronklik tot God se glorie gebruik. Toe het Lucifer in die spieël begin kyk en oor sy eie skoonheid begin reflekteer. Hy het begin om die gawe wat aan hom gegee is, eerder as God, te verheerlik. Die les in Lucifer se val is die volgende: Wat jy nie in lof verander nie, verander in hoogmoed. Dis ‘n probleem, want ‘…God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid’ (Jakobus 4:6 NLV). In plaas van om lof na God toe te swaai, het Lucifer dit gebruik om sy ego te voed. Dit was sy sondige begeerte om opgehef te word wat tot sy val gelei het. Wat is jou grootste God-gegewe gawes? Wat is jou belangrikste God-gegewe geleenthede? Watter groot drome het die Heilige Gees in jou laat wortel skiet? Dit is jou ‘Isak.’ Jy moet jou ‘Isak’ liefhê en hom vier, maar jy moet nooit toelaat dat dit God se plek in jou lewe inneem nie. As jou drome vir jou belangriker as God word, moet jy hulle ter wille van jou siel opoffer. Jy moet hulle op die altaar plaas en die mes oplig. Soms moet jou droom doodgaan voordat dit vir God se glorie opgewek kan word.
Sielskos: 1 Pet 1-5; Mark 9:14-29; Ps 49; Spr 12:20-22