Vervulde profesieë

2024-03-23
Matteus 16:16 NLV

Een van die oortuigendste bewyse dat die Bybel waarlik die Woord van God is, lê in die aantal profesieë wat gedurende Christus se lewe vervul is. Daniël het die koms van die enigste Joodse Messias voor die tempel se ondergang geprofeteer. Die Ou-Testamentiese profete het verklaar dat Hy in Betlehem (sien Miga 5:1-2) uit ‘n maagd gebore sou word (sien Jesaja 7:14), verraai sou word vir dertig stukke silwer (sien Sagaria 11:12-13), aan die kruis sou sterf (sien Psalm 22), en in ‘n ryk man se graf begrawe sou word (sien Jesaja 53:9).

Jesus het self voorspel dat Hy gekruisig sou word en drie dae later uit die dood sou opstaan. ‘Die Jode het daarop gereageer: ‘Oor watter wonderteken beskik jy om te bewys dat jy hierdie dinge mag doen?’ Jesus het hulle geantwoord: ‘Sloop hierdie tempel en in drie dae sal Ek dit weer oprig.’ Die Jode kap toe heftig terug: ‘Daar is vir 46 jaar lank aan hierdie tempel gebou, en jy sal dit binne drie dae weer oprig?’ Hy het egter oor die tempel van sy liggaam gepraat. Toe Hy eers uit die dood opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dit gesê het en hulle het die Skrif en die woorde geglo wat Jesus gesê het’ (Johannes 2:18-22 NLV).

Napoleon Bonaparte het gesê: ‘Ek ken mense en ek sê vir julle dat Jesus Christus nie bloot ‘n mens was nie. Tussen Hom en elke ander persoon in die wêreld is daar geen moontlike vergelyking nie. Alexander, Caesar, Karel die Grote en ek het ryke gevestig. Waarop het ons skeppings egter berus? Geweld. Jesus Christus het sy ryk op liefde gegrond; en miljoene mense sal vir Hom sterf.’

Sielskos: Hos 6-10; Matt 26:47-56; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13