Vervul God se plan vir jou lewe
2023-11-10Efesiërs 5:17 DB
Om God se plan vir jou lewe te vervul, moet jy die volgende doen:
1) Beplan jou dag. Beplan hoe jy jou tyd gaan bestee en hou daarby. Net een uit elke drie mense doen dit. Een leierskapskundige sê: ‘Dis min dat ek in die oggend opstaan en wonder wat ek daardie dag moet doen.’ Dis hoekom hy ‘n leier – en ‘n kundige! – is.
2) Doen die eerste dinge eerste. Goethe het gesê: ‘Dinge wat die meeste saak maak, moet nooit aan die dinge wat die minste saak maak, uitgelewer wees nie.’ Die meeste van ons kom eers in die middag by die belangrikste take uit. Ons maak take wat ‘n lae prioriteit is eerste klaar sodat ons kan voel ons het iets bereik. Dis egter nie wys nie. As jy jou dag beplan en nie daarby hou nie, sal jou resultate dieselfde wees as diegene wat glad nie ‘n plan het nie.
3) Wees gefokus, maar buigbaar. Verwag die onverwagte en leer om aan te pas. Omstandighede verander voortdurend, dus moet jou metodes om dinge klaar te maak ook verander.
4) Leer om te delegeer. Mense val in twee kategorieë: die wat vasklou en die wat afpak. Diegene wat vasklou weier om enigiets wat hulle belangrik ag, te laat gaan, of hulle nou die regte persoon vir die werk is of nie. Diegene wat afpak, is egter vinnig om take uit te deel sonder om te dink hoe goed die werk gedoen word. Hulle doel is om die werk so gou as moontlik van hulle lessenaars af te kry. Behoorlike delegering vereis dat jy wys moet wees, seker moet wees wie jy is en vrygewig teenoor ander moet wees. Dit beteken ook dat die werk reg gedoen word – op die ou einde is dit wat jy wil hê.
Sielskos: 1 Kron 1-2; Joh 8:21-30; Ps 115; Spr 25:23-25